Schools

Erica Kleuterskool word 50

Erica Kleuterskool vier vanjaar dié skool se vyftigste bestaansjaar en die feesvieringe het sommer reeds Saterdag op die velde van PHS afgeskop met 'n heerlike atletiek- en boeremarkdag.

POLOKWANE – Erica Kleuterskool vier vanjaar dié skool se vyftigste bestaansjaar en die feesvieringe het sommer reeds Saterdag op die velde van PHS afgeskop met ‘n heerlike atletiek- en boeremarkdag.

Die tema vir die dag was ‘Karnaval’ en dit was behoorlik ‘n dag van kleur, geur en genot.

Lenise Bezuidenhout, Nimza Ramashala, Niané Rousseau, Julianna Flora, Abishai Erasmus en Jalieze Pretorius is van die pompoms wat hier paradeer.

Soos oudergewoonte het die skool se pompoms hulself goed van hulle taak gekwyt deur die dag te open, waarna die kleuters hulle heel beste gegee het in verskeie atletiekitems wat ingesluit het hekkies, kortafstande en kruiwaresies, terwyl die ouers heerlik saamgedraf het.

Gesiggies is geverf, daar is mini-gholf gespeel en teikens is raakgeskiet, en een en elk het dié dag saamgestem dat pret met ‘n hoofletter die oogmerk was.

Pa’s het ook heerlik tougetrek, en dit was die Kameelperdklas wat uiteindelik hier koning gekraai het.

Ané Ferreira kom by die wenstreep aan.

Wat die dag verder ekstra spesiaal gemaak het, was die feit dat die voormalige hoof van die skool, Ria Elliott teenwoordig was om die feesvieringe te open.

Sy was aan Erica verbonde van 1981 tot 2015.

Skoolhoof Monja Groenewald het opgemerk dat Elliott se teenwoordigheid by die dag werklik ‘n groot eer was: “Haar wense vir die skool se volgende 50 jaar sal almal wat hier teenwoordig was vandag, vir lank bybly.”

Die boeremark was ook ‘n treffer, met ‘n verskeidenheid vrugte en groente, en sommer ook ontbyt, wat gesorg het dat die rande behoorlik uitgeruil word.

“Ons is werklik baie dankbaar vir die skenkings wat ons ontvang het van ons ouers en die gemeenskap. Erica sê uit haar hart uit dankie,” het Groenewald opgemerk.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button