Dié Osie ken van praat
Terwyl Amieke Bornman (9) in haar skoolklere op die speelgrond rondhardloop, sal 'n mens nie sommer dink sy kan 'n hond uit 'n bos uit redeneer nie.
POLOKWANE – Dié Oosskoolleerder Amieke Bornman (9) het onlangs deurgedring na die finale rondte van die Super 12-redenaars.
“Ek het reeds in gr. 2 met redenaars begin nadat dit vir my lekker geklink het om voor ander mense te praat, en dit kan ek goed doen. Ek beoog ook om later vanjaar aan Radikale Redenaars deel te neem.”
Mense dink gereeld diegene wat aan aktiwiteite soos redenaars deelneem, moet ‘n liefde vir tale hê, maar Amieke hou die meeste van wiskunde. “’n Mens leer om die somme makliker te kan doen en dit is baie lekker as jy dit regkry.”
Daar is geen onderwerp waaroor Amieke al moes praat wat vir haar onaangenaam of moeilik is nie.
Op die vraag wat is die een onderwerp waaroor sy nie graag sal praat nie, dink sy bietjie na voor sy antwoord: “Honde. Dalk omdat ek meer van katte hou. Wat gelukkig lekker is van redenaars is waar jy jou rede kan regverdig. Soos jy kan praat oor waarom jy dink katte is beter as honde. Jy moet die beoordelaars oortuig dat jou siening reg is.”
As deel van Amieke se voorbereiding leer sy eers elke dag ‘n stukkie uit haar praatjie en sê dit op tot sy dit ken. Sy sê dit ook vir haar ma op of oefen voor die spieël.
Amieke se broer, Cilliers, woon elke kompetisies by en sy glo dat hy haar gelukbringer is.
Wanneer sy skielik begin twyfel in haar vermoë, kyk sy na die gehoor en fokus op die mense wat die toespraak geniet.
“My raad aan ander is eenvoudig. As jy kan praat kan jy mense beïnvloed en as jy mense kan beïnvloed, kan jy die wêreld verander. Dit is pret om mense te oortuig van dit waarin jy glo.”




