Schools

Lekkergoed bring soete wins vir Maricke

Die 14-jarige Maricke Fourie se ma het die idee op sosiale media gesien en sê dit is nie moeilik om die suigstokkies te maak nie, maar dat fokus belangrik is.

POLOKWANE- Op 14-jarige ouderdom is Maricke Fourie reeds hard aan die werk om geld in te samel.

Dié gr. 8-leerder van Hoërskool Pietersburg het net meer as ‘n jaar gelede begin om spesiale suigstokkies te maak en te verkoop.

“My ma het die idee op sosiale media gesien en vir my gewys. Sy het gekyk hoe dit gemaak word en ons het die vorms en suiker bestel. Ek het gevra of ek dit kan begin verkoop.”

Van die voltooigde suigstokkies.

Hierdie is nie die eerste besigheidsidee wat Maricke beetgepak het nie. In 2020 het sy agter haar naaldwerkmasjien ingeskuif en verskeie soorte haarrekkies gemaak en verkoop. In die grendeltyd het sy ook gesigmaskers (buffs) gemaak.

“Ek hou daarvan om besig te bly en ek gebruik die geld vir sakgeld. Ek het ‘n bedrag vir my pa gegee om vir my te belê. Dit is lekker om nie vir my ouers vir geld te vra nie.”

Die suigstokkies is spesiaal aangesien Maricke ‘n unieke prentjie daarop kan sit.

Elke suigstokkie kan ‘n unieke prentjie kry.

“Die kliënt gee vir my die foto of prentjie wat ek dan in sirkelvorms omsit. Dan word dit op suikerpapier gedruk. Ek het vorms waarin ek stokkies steek. Dan laat loop ek ‘n dun lagie gesmelte suiker in die vorm, sit die suikerpapierprentjie op en gebruik gekleurde suiker om die res van die koekie te maak.”

Maricke het vinnig geleer dat gesmelte suiker baie seer brand. Verder sê sy dit is nie moeilik om die suigstokkie te maak nie, maar dat fokus belangrik is.

“Jy moenie bewe nie en daar is ‘n presiese hoeveelheid wat jy in die vorm moet gooi. Te veel of te min gaan maak dat die stokkie uitsteek.”

Maricke maak die suigstokkies op bestelling, maar het ook ‘n afsetpunt in Pretoria. Sy het onlangs ‘n bestelling gekry vir meer as 1 000 suigstokkies. Die suigstokkies kan verskillende vorms en groottes hê en elke suigstokkie ook sy eie prentjie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button