Tegniese Tommies wys vernuf in kompetisie
Tydens die kompetisie moes Scherine Britz op dag een 'n enkelfase-vorentoe/agtertoe-motorpaneel bedraad, en op dag twee huishoudelike installasies gedoen het.
POLOKWANE – Leerders van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé saam met onderwyser Scherine Britz, het op 5 en 6 Oktober aan die Sasol Stigting en Kagiso Trust se Interprovinsiale Praktiese Vaardigheidskompetisie vir Tegniese Vakke-kompetisie by die Universiteit van Johannesburg deelgeneem.
Britz is ‘n kragsisteme-onderwyser by die skool terwyl AJ Kraft ‘n leerder aan dié skool is.
Daar was altesaam vyf provinsies met drie verteenwoordigers per provinsie wat deelgeneem het.
“Die tegniese hoërskole van Limpopo het vroeg in September aan die provinsiale been van die kompetisie deelgeneem. Aangesien ek en AJ ‘n eerste plek behaal het, het ons deurgedring na die nasionale vlak,” het Britz vertel.
Tydens die kompetisie moes Britz op dag een ‘n enkelfase-vorentoe/agtertoe-motorpaneel bedraad, en op dag twee moes sy huishoudelike installasies gedoen het.
Die paneelkonstruksie moes bestaan uit ‘n tweerigtingskakeling, tussenskakeling en ‘n muurprop.
“Op dag twee moes die leerders ‘n dag/naglig bedraad na die verdeelbord. Die leerders se opdragte was gefokus op die gr. 10-sillabus en die onderwysers se opdragte is ook vir gr. 10-12 sillabus en gemik op kennis van ons ambag,” vertel Britz.
Kraft het in die sweis- en metaalafdeling deelgeneem en moes ‘n boot bou. Hy sê die kompetisie was baie lekker en hy het baie dinge geleer. Britz voeg by deur te sê dat dit baie goeie blootstelling was.
“Die universiteit het vir die wenner ‘n vakleerlingskap aangebied en ek glo indien hierdie leerder wil aansoek doen by Sasol vir ‘n beurs, gaan dit hulle goed baat om op hulle CV te sê hulle het nie net aan die kompetisie deelgeneem nie, maar ook gewen,” voeg Kraft by.
Britz vertel dat dit die eerste jaar was dat Tom Naudé-leerders aan dié kompetisie deelneem.
“Ons was effens in die diep kant ingegooi. Ons het laat van die kompetisie uitgevind, maar het steeds goed gevaar met die min voorbereidingstyd wat ons gehad het. Ons gaan volgende jaar weer deelneem en dan gaan ons vir goud gaan. Dit was nou ons eerste keer en ons het nie geweet wat om te verwag nie, maar ons gaan hard werk en vir hulle wys wie is die Tommies.”
Britz verwerf ‘n derde plek in die elektriese afdeling vir onderwysers en Kraft ‘n tweede plek in sweis- en metaalwerk.




