Dis tyd vir Bosveld Intervarsity
Spelers van PHS en HTS Tom Naudé het mekaar hierdie week reeds in verskeie sportsoorte die stryd aangesê, en op Saterdag se spyskaart is uithaler rugby- en netbalwedstryde.
POLOKWANE – Die gesonde kompetisie tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg is jaarliks rondom hierdie tyd tasbaar, wanneer die Bosveld Intervarsity tussen dié twee skole gehou word.
Vanjaar is dit Tom Naudé se beurt om gasheer te speel, en die mededinging het reeds op Mei afgeskop met boogskiet, debat en skaak. Op 8 Mei het die fietsryers en jukskeispelers hulle staal gewys.
Terwyl PHS nie oor ‘n sokkerspan beskik nie, het Tom Naudé op hul beurt egter nie hokkiespanne nie. Tog het hulle in hierdie sportsoorte ook teen mekaar meegeding.
Die eerste week van die Bosveld Intervarsity is afgesluit deur die manspersoneel van beide skole wat ‘n paar balle op die gholfbaan gaan slaan het en die afgelope Dinsdag het die onderwysers mekaar op die netball- en rolbalbaan ontmoet waar hulle in ‘n goeie gees bande gebou en gespeel het.
Die groot dag Saterdag se program is gevul met aksiebelaaide netball- en rugbywedstryde wat reeds om 08:00 afskop.
Die oumanne (voormalige spelers van beide skole) speel om 12:30, met die eerste rugbyspanne wat om 13:35 sal uitdraf.
Die ‘old girls’ kry ook kans op die netbalbaan en speel ‘n uur na die eerstenetbalspanwedstryd, wat om 10:30 begin.




