Dié Pieties nie vergete, danksy gedenkmuur
Hierdie idee is deur die hoofleiers, Lara van Staden en Nicolas Oerlemans begin as ‘n manier om hulde te bring aan leerders wat tydens hul hoërskoolloopbaan by die skool oorlede is.

POLOKWANE – Daar was groot nostalgie toe die hoofleiers van Hoërskool Pietersburg Donderdag ‘n gedenkmuur onthul het.
Hierdie idee is deur die hoofleiers, Lara van Staden en Nicolas Oerlemans begin as ‘n manier om hulde te bring aan leerders wat tydens hul hoërskoolloopbaan by die skool oorlede is.
Die gedenkmuur is by die Afrikaans Roostuin geleë en ter nagedagtenis aan leerders wat tussen 2021 en 2023 as Pieties omgekom het.

Gaste wat die geleentheid bygewoon het, het ingesluit die leerders se voogonderwysers, personeel en ouers, en ander familie.
Elke familie het ‘n bos blomme ontvang en geleentheid gehad om voor die muur foto‘s te neem.
Lara het in haar boodskap gesê hoe elkeen van die leerders onthou sal word.
“Elke kind is baie spesiaal en het ‘n invloed op iemand se lewe in PHS gehad. Ons sal altyd dinge onthou soos Tshepang vir sy vriendelikheid, Anneke vir haar vreesloosheid, Dietrich se glimlag en Pieter se lojaliteit sal altyd in ons harte bly.”

Nicolas het die volgende gedig voorgelees:
“Ek stuur ‘n duif Hemel toe
met ‘n pakkie op sy vlerke
wees versigtig as jy dit oopmaak
dit is vol kosbare skatte.
Binne is miljoene soene
toegedraai in miljoene drukkies
om te sê hoe baie ek jou mis
en om vir jou al my liefde te stuur.
Ek hou jou styf vas teen my hart
en daar sal jy bly
om saam met my deur die lewe te stap
totdat ons mekaar weer ontmoet.”

Dietrich Scholtz (15) is op 31 Augustus 2023 oorlede.
Tshepang Segooa (14) is op 25 Desember 2023 oorlede.
Anneke van der Merwe (15) is op 3 Februarie 2024 oorlede.
Pieter Miller (14) is op 4 Februarie 2024 oorlede.








