Lenteliedjie behoort aan PHS-gr. 11’s
Lenteliedjie is 'n sangkompetisie tussen leerders in gr. 8-11 en word in die gr. 11-blok onder die Storieboom gehou.
POLOKWANE- Die laaste kultuuraktiwiteit van die jaar op Hoërskool Pietersburg se kalender, is jaarliks die gewilde Lenteliedjie.
Lenteliedjie is ‘n sangkompetisie tussen leerders in gr. 8-11 en word in die gr. 11-blok onder die Storieboom gehou.
Ouers, personeel en mede-leerders het Donderdag onder die Storieboom bymekaargekom, gereed vir ‘n aand van vermaak.

Die Onderwysband skop die aand af waarna die gr. 8-, 9-, 10- en 11-klasse gevolg het. Die voorgeskrewe liedjies vir elke graad was enige iets van Bok van Blerk.
Die gr. 8’s se tema was Onder die Sterre en hulle het Hey Willemina van Bok in hulle opvoering vertolk.
Ek en my Vlerk was die gr. 9’s se keuse met hulle tema, Bosveld Liefde.
Die gr. 10’s het drie liedjies gebruik: 68 Chevy, Hatfield Jol en Tannie Tina van Wyk met hulle tema De Erfenis.

Die gr. 11’s het uit die staanspoor besluit om iets anders as die vorige grade aan die beoordelaars te bied.
Geklee in japonne met ‘n wekker en selfs ‘n kletsrymer, het hulle Drome as tema gehad en weggestap met die eerste plek.
Hulle Bok-medley was Vodka en O.J, Brandewyn het nie Brieke nie, en Al die Dubbels. Die aand is afgesluit met ‘n uitvoering deur PHS se a capella-sanggroep, Amika.
Die beoordelaars vir die aand was skoolhoof Adolf Ellis, adjunkhoof Ina van der Merwe, Greta-Mari Duvenhage en Roelien Schulenburg.




