Schools

Hekkies-silwer by SA’s vir Tom Naudé se Tiaan

Tiaan, 'n gr. 11-leerder aan HTS Tom Naudé, het van 2-5 April aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiek (Sasa) en LSEN Hoërskool Nasionale kampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem.

POLOKWANE – Wanneer ‘n afrigter bykans 800km aflê om sy atleet by ‘n byeenkoms te ondersteun, wys dit nie net sy geloof in die atleet se potensiaal nie, maar ook onwrikbare ondersteuning. Dít is presies wat Danie Roux, die afrigter van hekkieatleet Tiaan Haasbroek, onlangs gedoen het – net om seker te maak sy atleet bring ten minste een medalje huis toe.

Tiaan, ‘n gr. 11-leerder aan HTS Tom Naudé, het van 2-5 April aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiek (Sasa) en LSEN Hoërskool Nasionale kampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem. Hy het silwer verower in die 400m hekkies vir seuns o/17.

Vroeër vanjaar het hy reeds aan die Asa- en Sasa-kampioenskappe in Kaapstad deelgeneem. Daar het hy brons gewen in die 400m hekkies (Asa), silwer in dieselfde item met ‘n persoonlike beste tyd van 53.13 sekondes, en sewende plek in die 110 m hekkies met ‘n persoonlike beste van 14.13 sekondes.

Sy liefde vir hekkies het begin toe hy in gr. 3 was en aan die Sjokolade atletiekbyeenkoms by Oosskool deelgeneem het. “Ek het later aan ‘n P1-byeenkoms by Hoërskool Pietersburg deelgeneem en die 80m hekkiesrekord opgestel. Dit was asof die hekkies met my gepraat het – ek het geweet ek het ‘n natuurlike aanleg daarvoor,” vertel hy.

Tiaan sê sy ouers, afrigter en skool is sy grootste motivering. “Hulle ondersteun my onvoorwaardelik. Dis wonderlik dat my skool my prestasies vier. Ek wil myself aanhou verbeter en eendag die beste wees in wat ek doen.” Hy het geleer om die druk wat met prestasie kom, te gebruik as motivering om harder te werk. “Ek spandeer baie tyd aan oefening en het besef ek sal meer moeite moet doen om skoolwerk naweke en ná oefening by te hou.”

Al lyk hy soos ‘n gewone tienerseun, onderskei iets hom tog van die res. “Op die baan het ek ‘n vuur in my om elke keer beter te presteer. Van die baan af probeer ek nederig bly, maar steeds genoeg selfvertroue hê om in myself te glo.”

Min mense weet dat Tiaan voor elke wedloop met homself praat om gefokus en kalm te bly. Sy afrigter maak seker dat Tiaan weekliks op datum is met sy oefening.

“Tiaan stel doelwitte en werk hard daaraan. Hy glo in ons leuse: ‘Hoe harder, hoe lekkerder’ en ‘Kampioene oefen wanneer ander rus.’ Hoe sterker die kompetisie, hoe groter die uitdaging vir hom. Hy gee betekenis aan die woord ‘guts’, en daarom het hy sukses behaal by beide die Asa- en Sasa-kampioenskappe.”

Tiaan se raad aan ander jong atlete: “Wees toegewyd. Dit gaan nie maklik wees nie – jy moet hard werk en in jouself glo, want sonder dit gaan jy nie geestelik sterk genoeg wees om jou drome te bereik nie”.

Sy oefenprogram wissel daagliks, en ná ‘n intense seisoen neem hy ‘n welverdiende rustyd om te herstel. Buiten atletiek speel hy ook krieket vir die skool en ‘n klub. Rugby moes hy egter laat vaar ná ‘n besering, en vandag fokus hy slegs op atletiek en krieket.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button