Schools

Juf. Retha groet Pieties na 22 jaar

Wat Retha Lerm die meeste gaan mis, is die saamwees van die personeel en die vriendelike leerders wat haar elke oggend met 'n glimlag in die gange groet.

POLOKWANE – Kinders is slim mense wat gou agterkom as jy nie opreg of eerlik is nie. Hulle het altyd respek vir iemand met kennis.

Só gesels Retha Lerm, wat onlangs ná 22 jaar diens by Hoërskool Pietersburg afgetree het.

Retha, wat in Namibië grootgeword het en aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, het reeds in die kleuterskool besluit sy wil ‘n juffrou wees.

“Ek het destyds ‘n beurs van die Suidwes-Afrika Onderwysdepartement ontvang, juis omdat ek so ‘n passie vir onderrig gehad het. In my eerste jaar toe ek by Swakopmund Sekondêre Skool begin werk het, het ek geweet dis waarvoor ek bestem is.”

Sy sê sy het nooit haar beroepskeuse betwyfel nie. Sy het altyd gehou van die interaksie met leerders én haar werksomgewing.

Retha onthou hoe een van die personeellede haar op haar eerste dag by die skool by haar motor ontmoet het – “’n warm verwelkoming wat ek nooit sal vergeet nie.

Ons het altyd saamgesit en ‘n besondere band gevorm”.

Hoewel verandering vir baie mense moeilik is, glo sy dit kan positief wees.

“Die tegnologiese veranderinge in skole was egter ‘n groot uitdaging vir my. Ek is ‘BC’ – before computers – gebore, en dit het my dikwels laat kopkrap. Gelukkig was daar altyd jonger kollegas wat bereid was om keer op keer te help.”

Tegnologie mag haar struikelblok gewees het, maar sy glo steeds kinders is kinders, ongeag die era.

“Leerders het oor die jare geleer om hul opinies te gee en bevraagteken makliker wat hulle hoor. Danksy tegnologie kan hulle vandag wyer lees en is hulle meer ingelig. Maar met ‘n goeie sin vir humor bly jy in beheer. Dit kalmeer hulle, en dan is hulle soos klei in jou hande.”

Wat sy die meeste gaan mis, is die saamwees van die personeel en die vriendelike leerders wat haar elke oggend met ‘n glimlag in die gange groet.

Sy het ook saam met Gerda Siertsema die jaarlikse Mnr. en Mej. PHS-kompetisie aangebied. “Ek sal altyd die grappies, spanning en kroningsaande onthou – dit was spesiaal.”

Haar raad aan jong onderwysers is eenvoudig: “Moenie skoolhou as jou hart nie daarin is nie. Dit is ‘n veeleisende beroep en as jy dit as ‘n uitkoms sien, gaan jy nooit gelukkig wees nie.”

Op die vraag wat die titel van haar loopbaan-boek sou wees, antwoord sy laggend:

“Hier vra jy my vas. My man spot altyd en sê: ‘Dit wat nie in die handboek staan nie…’”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button