FOTO’S: Geld vir lekkernye by Erica Pre-Primêr
Die kleuters by Erica Pre-Primêr asook die gr. R-leerders het vir weke uitgesien na die jaarlikse gr. R Entrepreneursdag wat onlangs plaasgevind het.
POLOKWANE – Op ses jarige ouderdom is die woord entrepreneursdag dalk moeilik om uit te spreek, maar kinders weet beslis wat dit beteken.
Die kleuters by Erica Pre-Primêr asook die gr. R-leerders het vir weke uitgesien na die jaarlikse gr. R Entrepreneursdag wat Vrydag plaasgevind het.
Die gr. R’e het opgewonde beplan aan wat hulle gaan verkoop, hoe hulle tafel gaan lyk en natuurlik hoeveel geld hulle huis toe gaan neem.

Dit is egter die ouers wat ingespring het, met die hulp van hulle kinders, om heerlike soetgoed voor Vrydag klaar te maak.
Die roomys was, ongeag van die koue, baie gewild en die jonger kleuters het gesorg dat die roomysbak sommer vinnig leeg was.
Daar was ook trokke van koekies, kompleet met ‘n vrag, van sjokolade pretzel-stokkies en die Minions het in die vorm van Rice Crispy-koekies vir Liam Engelbrecht gehelp op sy pad na rykdom.
Kolwyntjies, koekpops en sjokolade bruintjies was ook op die tafel asook lekkergoed pakkies, kondensmelk en karamel inspuitings en springmielies.

Teen die tyd wat al die gr. R’e hulle produkte uitverkoop het, was hulle poegaai gewerk.








