DATjie, DATtator op Pieties se DIT-planke
Verlede week kon Hoërskool Pietersburg se ouers sien waaraan die drama-kinders die jaar gewerk het met 'n spesiale vertoning.
POLOKWANE – As akteur kan jy nie regtig skaam wees nie, en soms moet jy ook dinge doen wat jy nie normaalweg sou doen nie – soos om jou rugbyklere vir ‘n elegante, blink rok en hoë hakke te verruil.
By Hoërskool Pietersburg se dramaklas leer leerders om nie bekommerd te wees oor wat mense van hulle sê nie, veral wanneer hulle met lang blonde pruike en rooi lippe die gehoor laat lag.
Die senior dramagroep het onlangs met die produksie ‘Skarumba’ aan die ATKV-Tienertoneel Gauteng-streekfees 1 in Pretoria deelgeneem.
Met uitslae om trots op te wees en ‘n spesiale benoeming vir Landie Schütte, kon hulle nie anders as om die res van die skool en ouers te deel in hul dramatiese, komiese opvoerings nie.
Landie het die toekenning vir beste aktrise in ‘n hoofrol ontvang vir haar vertolking van Roxy in dié stuk.
Verlede week kon ouers sien waaraan die drama-kinders die jaar gewerk het met ‘n spesiale vertoning.
Die aand het begin met die temasang van Binnelanders vir die skets ‘Hospitaal Hondehok’, met teks en regie deur Alexa Schempers en Heima Pretorius, wat ook verantwoordelik was vir die volgende skets, naamlik ’27 Minute’.
Derde op die program was ‘DIT’, ‘n toneelstuk geskryf deur Werner Smit en Marli Oosthuizen, wat die junior groep se talente ten toon gestel het. Met tjips en asyn, ‘n hofnar en dansers, het die gehoor op die punte van hulle stoele gesit. ‘n Eerstespan rugbyspeler of twee was deel van die toneel. Marli en Annika Harmse het die regie behartig, terwyl Estie Ellis en Lynette Oosthuizen verantwoordelik was vir kostuums en stelontwerp.
Net voor pouse was die juniors weer aan die beurt met Ryk en Roekeloos, ‘n stuk oor vroue wat hulle mans se geld spandeer en gesigaanvullings en pedikure bespreek. Hierdie produksie is ook deur Heima en Alexa behartig.
‘Skarumba’ is deur die seniors opgevoer, met Landie as Roxy in ‘n oortuigde rol. Die gehoor het hard gelag vir Zené Petitt as die vragmotorbestuurder, Amoré Duvenhage as Shamonique-Shamonay, en die groep fopdansers – rugbyspelers in hoë hakke en blink silwer rokkies.
Dié stuk het beide ‘n silwer en ‘n brons medalje in Pretoria verwerf.














