Schools

PHS vereer legendes by Aand van die Sterre

Vanjaar is daar hulde gebring aan ou-Pieties Sybrand Koedyk asook Engela Fouché.

POLOKWANE – Op Hoërskool Pietersburg se kalender staan die Pietie van die Jaar-geleentheid uit as ‘n ware hoogtepunt.

Die Aand van die Sterre, soos dit bekendstaan, is ‘n aand waar oud-onderwysers en legendes van PHS vereer word vir hul bydraes.

Vanjaar is twee reusefigure uit die verlede gehuldig: Engela Fouché en Sybrand Koedyk, wat albei diep spore by die skool getrap het.

Engela Fouché het tussen 1985 en 1994 by PHS onderrig gegee. Oud-Pietie Eben Lingenfelder het ‘n huldeblyk aan haar gebring.

“Die eertydse Britse eerste minister, Margaret Thatcher, is deur die Russiese media ‘The Iron Lady’ genoem – ‘n bynaam wat net so wel aan Engela toegeken kon word. Keurig versorg, fyn gemanierd, maar met ‘n onwrikbare doelgerigtheid. In haar wêreld was daar nie net ‘n reg of verkeerd nie, maar eerder ‘n reg of ‘n heeltemal reg.”

Dr. De Klerk Roos (Pietiebondvoorsitter) saam met Pietie van die Jaar, Sybrand Koedyk.

Hy het beklemtoon dat sy ‘n onblusbare passie vir onderrig en sportafrigting in ander onderwysers gevestig het.

Sybrand Koedyk, vir dekades ‘n bekende gesig op PHS se sportvelde, is deur oud-leerlinge onthou as afrigter, mentor en inspirasie.

Tyson Swanepoel het vertel: “Vir baie Polokwaniërs was hy net Sybrand, vir ander ‘Sybies’ of ‘Koedoe’, maar vir almal wat deel was van PHS se sportspanne sedert 1984, was hy net ‘Coach’. Hy het meer as net sport afrig, hy het lewens gevorm.”

Christoff Lombard het bygevoeg dat Koedyk die leerders geleer het dat die telbord belangrik is, maar dat karakter altyd eerste kom.

“Hy het ons geleer om die klein goed reg te doen, om verantwoordelikheid te neem, vir mekaar te speel en nooit op te gee nie.”

Koedyk was van 1984 tot 2018 aan PHS verbonde.

As atletiekafrigter en -organiseerder was hy instrumenteel in die skool se goue atletiekdekade, waartydens PHS as een van die sterkste atletiekskole in Suid-Afrika gereken is.

Ook in die klaskamer het hy sy merk gemaak. As wiskunde-onderwyser het hy besonderse suksesse behaal:

In die 10 jaar wat hy gr.12-klasse aangebied het, het nie een leerder gedruip nie.

Hy is drie jaar lank as beste gr.12-onderwyser vir wiskunde geletterdheid in Limpopo aangewys.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button