Dis tyd vir kleuterskool, hoe nou gemaak?
Osieteddieshoof Linda Kruger gee raad oor dié aspekte waarna ouers wie se jongelinge die eerste keer moet kleuterskool toe gaan, moet kyk voor hierdie belangrike besluit geneem word.
POLOKWANE – ‘n Goeie fondasie word reeds op ‘n baie vroeë ouderdom in ‘n kind vasgelê en dus is die toesig en onderrig wat hy of sy voor gr. R kry, baie belangrik.
Aangesien die meeste ouers ook werk, moet kinders soms van baie jongs af skool toe gaan. Met jou kind se toekoms in gedagte moet ouers self eers huiswerk doen voordat hulle ‘n skool kies.
Polokwane Review het met Linda Kruger, hoof van Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum gesels oor waarna ouers alles moet kyk.
“Die eerste ding wat ouers moet besef is dat geen skool van waarde, se skoolgeld minimaal kan wees nie. Wanneer hulle skole vergelyk, moet hulle ernstige vrae vra.”
Sy stel die volgende voor:
• Wat eet die kinders daagliks? (voeding, vars produkte, gebalanseerde etes).
• Wie is die onderwyseresse? Is hulle opgelei, ervare en passievol oor hulle roeping?
• Hoe lyk die opvoedkundige speelgoed? In watter toestand is dit? Is dit nuut, veilig en stimulerend?
• Watter aktiwiteite word by die skoolfonds ingesluit? (Sport, kultuur, uitstappies en spesiale dae).
• Hoe lyk die omgewing? Is dit netjies, veilig en kindervriendelik?
• Hoe lyk die klasgroottes? Kry elke kind genoeg individuele aandag?
• Is daar ’n gestruktureerde leerprogram of kurrikulum?
• Hoe lyk die kommunikasie met ouers? Watter stelsels is in plek?
• Watter veiligheidsmaatreëls is in plek? Toegangsbeheer, toesig, noodprosedures.
• Hoe lyk die buitemuurse ruimtes? Word dit aktief gebruik vir leer deur spel?
• Word daar belê in personeelontwikkeling en die opknapping van toerusting?
“Dit is ook belangrik dat ouers besef daar is ‘n verskil tussen ‘n dagmoeder, ‘n speelgroepie en ‘n kleuterskool is. By ‘n kleuterskool kan kinders nie net speel nie, daar moet tyd vir vryspel en tyd vir gerigte spel wees. Met ander woorde, aktiwiteite waar spelenderwys vaardighede aangeleer word,” is haar raad.
Ander aspekte waarna opgelet moet word:
• Is daar iemand met basiese noodhulpopleiding op die perseel?
• Hoe lyk die toilette en kombuisareas?
• Word kinders se hande gereeld gewas en leer hulle basiese higiëne?
• Is die skool by die departement geregistreer?
• Is daar ’n gestruktureerde dagprogram: tyd vir leer, speel, rus en ete?
• Word daar gefokus op ontwikkeling (taal, fyn- en grootmotoriese vaardighede, sosiale gedrag)
• Hoe hanteer die kleuterskool dissipline?
• Word kinders aangemoedig om selfstandig te wees en ander te respekteer?
• Pas die skool se waardes by dié van die ouers?
• Wat is die reël as jou kind siek is?
• Hoe lyk die kinders: ontspanne, gelukkig, betrokke?
• Hoe voel die plek vir jou as jy instap: warm en verwelkomend of koud en onpersoonlik?
• Praat met ander ouers, hulle ervarings sê baie.




