BlogsOpinion

Die belangrikheid van sagmoedigheid

Sagmoedigweid is nie gelyk aan swakheid nie. Om sagmoedig te wees beteken nie om toe te laat dat jy uitgebuit en vertrap word nie. Jesus was sagmoedig, en tog het Hy die tafels van die geldwisselaars omgegooi. Hoekom? Omdat hulle God se eer aangetas het en mense blatant uitgebuit het. Sagmoedigheid beteken nie om toe …

Sagmoedigweid is nie gelyk aan swakheid nie. Om sagmoedig te wees beteken nie om toe te laat dat jy uitgebuit en vertrap word nie.

Jesus was sagmoedig, en tog het Hy die tafels van die geldwisselaars omgegooi.

Hoekom?

Omdat hulle God se eer aangetas het en mense blatant uitgebuit het.

Sagmoedigheid beteken nie om toe te laat dat mense oor jou loop en op jou trap soos ‘n vloerlap of deurmat nie.

Sagmoedigheid eis ook respek, en sagmoediges staan ook op teen onreg.

Sagmoedigheid is nie om onreg oor te sien of jou rug daarop te draai nie. Sagmoedigheid vra ook van my om my aandeel aan die onreg in die wêreld te erken en iets daaraan te doen om dit reg te stel.

Sagmoedige mense verstaan ook iets van die lyding en die stukkendheid in die wêreld.

Sagmoedige mense verstaan iets van die pyn wat deur onreg veroorsaak word en sal niks doen om die pyn erger te maak nie. Hulle optrede wil pyn verlig.

Sagmoedigheid gaan oor respek vir ander mense. Die ou Grieke het sagmoedigheid verstaan as: beteuel jouself.

Beheer jouself. Kry jou humeur in bedwang. Sit ‘n wag voor jou mond.

Vind ‘n balans tussen ‘n objektiewe kilheid en onbeheerde emosionele uitbarstings.

Sagmoedigheid gaan ook oor vriendelikheid teenoor alle mense.

Sagmoedigheid gaan oor ‘n leerbaarheid wat nie maak dat ons net gehoor wil word nie, maar ook luister.

Sagmoedigheid vertoon ook ‘n diep en egte onselfsugtigheid. ‘n Lewe wat nie net op myself gerig is nie. Hulle eie sake is nie al wat belangrik is nie – soms is daar by hulle amper ‘n ongeërgdheid oor hulle eie behoeftes.

Dit is gewortel in die wete dat ons van God afhanklik is en dat Hy vir ons sorg.

Sagmoediges is nie strydlustig nie, nie magsugtig nie, nie hoogmoedig nie, nie uit om geweld te pleeg nie. Sagmoedigheid verwoes nie, neem nie wraak nie en vergeld nie. Sagmoediges besef, om die nuwe aarde te erf moet ek van die oue afstand doen.

Ek moet my elke dag losmaak van die ou aarde en in die nuwe aarde ingroei.

Ek moet ‘n nuwe karakter kweek wat eie is aan God se nuwe ryk.

Hiervoor het God vir my Sy Gees gegee!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button