Streef daarna om ‘n ware held te wees
Lank, lank gelede het ons Heldedag gevier in Oktober. Dit het met die viering van Paul Kruger se verjaar-dag begin. Maar met die koms van demokrasie, het die viering van helde skielik ‘n dreigement of belediging begin inhou. Deesdae vier ons heelwat vroeër in die jaar Erfenisdag. Dis ‘n heerlike dag vir braai en die …
Lank, lank gelede het ons Heldedag gevier in Oktober. Dit het met die viering van Paul Kruger se verjaar-dag begin. Maar met die koms van demokrasie, het die viering van helde skielik ‘n dreigement of belediging begin inhou.
Deesdae vier ons heelwat vroeër in die jaar Erfenisdag. Dis ‘n heerlike dag vir braai en die viering van ons verskillende kulture.
Die afskaffing van Heldedag is onregverdig, want hierdie kulturele ongemak is beslis nie die helde se skuld nie. Heldhaftigheid het niks te doen met ideologie of politiek nie. Die definisie van ‘n held kan nie wees dat hy of sy aan jou kant geveg het nie. ‘n Held behoort ‘n held in almal se oë te wees. ‘n Held is nie ‘n ridder op ‘n wit perd, ‘n volmaakte wese wat jou uit alles kom red nie. ‘n Held is nie die koeëlkoetser, speurder of vegter wat die skurke die stryd aansê om ‘n lewe of geliefdes te red nie. Nee, ‘n held is heeltemal iets anders. ‘n Held is iemand wat ander se belange voor hul eie sit.
Onthou jy nog vir Wolraadt Woltemade met sy dapper perd wat self verdrink het nadat hulle talle skipbreukelinge gered het? Dit moes ‘n baie getroue perd gewees het wat die stormagtige see vir sy baas trotseer het.
Wat van Racheltjie de Beer wat haar lewe vir haar boetie gegee het? Of die storie van Amakeia wat haar lewe vir weerlose kindertjies gegee het toe vyandige impi’s hulle aangeval het? Die helde het hulle eie drang na lewe, hul basiese neiging tot selfbehoud, oorkom om vir ander te sterf. Ons moet hierdie helde eer en gedenk, ongeag ons verlede, omdat hulle dit verdien.
Ons kan nie almal sulke helde wees nie. Maar soos met alle dinge, het heldhaftigheid verskillende vorms en groottes.
‘n Heldedaad kan so eenvoudig wees soos om ‘n babatjie onder uit ‘n swembad te duik, of om vir iemand ‘n bord kos te gee wat desperaat van die honger is. Ons het almal die potensiaal om ‘n held te wees.
Die verskil tussen helde en gewone mense, is die feit dat helde ander mense eerste raaksien.
Wees vandag onbeskaamd ‘n held.
