Om te dors na ware en eerlike geregtigheid
Die Griekse woord waarmee geregtigheid vertaal word staan met sy voete vierkantig op die grond, want dit is ‘n regsterm. Geloof gaan nie net oor die dinge “daarbo” nie, maar ook oor die dinge hieronder! God het die saak tussen jou en Hom reggemaak (Romeine 5 en 6). Gaan maak jy nou die saak tussen …
Die Griekse woord waarmee geregtigheid vertaal word staan met sy voete vierkantig op die grond, want dit is ‘n regsterm.
Geloof gaan nie net oor die dinge “daarbo” nie, maar ook oor die dinge hieronder!
God het die saak tussen jou en Hom reggemaak (Romeine 5 en 6). Gaan maak jy nou die saak tussen jou en ander reg.
Gaan maak die saak tussen jou en die omgewing reg. Staan op teen alle vorme van onreg, nie net vir mense nie, maar ook vir diere, bome en riviere. Dit het nie niks met jou en my te doen nie. Dit het alles met ons te doen. Hierdie is God se aarde met God se mense. Ons kinders moet nog na ons hier lewe. Daar is min dinge in die lewe wat soveel respek af-dwing soos absolute reg en billikheid.
Soms, en ek hoop ek is verkeerd, lyk dit net asof selfs ons as Christene se honger en dors na wat reg is net nie groot genoeg is nie.
Ons maak soms ons oë daarvoor toe. Solank ons net nie aktief aan die onreg meedoen nie. Maar ons versuim om op te staan teen onreg, is onreg met ‘n ander baadjie aan.
Meer en meer mense sê dat hierdie die punt is waarop Christene getoets gaan word. Onderskat ons God se erns vir die reg? Lees ons die Ou Testament, sien ons dat daar min dinge is wat God so diep grief soos onreg. Die profete het hulleself uiters ongewild gemaak omdat hulle heersers, magtiges en leiers oor hulle onreg gekonfronteer het.
God se hart vir die reg klop baie sterk. Hy het ‘n intense deernis met misbruikte mense, verdruktes, randfigure en die wat arm is as gevolg van uitbuiting.
Jesus draai nie doekies om nie. Reg en geregtigheid is ‘n prioriteit! Jesus sê: Soek allereers die koninkryk van God en sy geregtigheid, dan sal Hy sorg dat ons alles kry wat ons nodig het (Matteus 6:33), nie wat ons dink ons nodig het nie.
Hy praat van ‘n honger en dors na wat reg is. ‘n Brandende begeerte vir geregtigheid. Baie gelukkig is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Uitermate gelukkig is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke (nie julle groot geloof) kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.
