Die digter William Ernest Henley het arm grootgeword en baie slegte ervarings beleef.
As kind het hy tering opgedoen en is sy een een been op 14-jarige ouderdom onder die knie geamputeer. Die lewe het egter nie vir Henley ondergekry nie.
In sy gedig Invictus skryf hy: In the fell clutch of circumstance / I have not winced or cried aloud / Under the bludgeoning of chance / my head is bloodied, but not bowed.
In die laaste vers skryf hy: It matters not how strait the gate / How charged with punishment the scroll / I am the master of my fate / I am the captain of my soul.
Ek is die meester van my lot en die kaptein van my siel. Ek bepaal my eie bestemming. Ek het die ergste gevat wat die lewe na my kant toe kon gooi. Ek is sterk en onafhanklik. Ek is in beheer van my eie lewe.
Ons is vol lof vir mense wat, soos Henley, die lewe trompop loop, vierkantig in die oë kyk en vol bravade vir die lewe sê: Is dit jou beste? Is dit al wat jy het?
Vandat ons kinders klein is, leer ons hulle om onafhanklik te wees en dinge vir hulleself te doen. By jong volwassenes is die strewe na onafhanklikheid een van die sake wat hulle lewens oorheers. Kry jou eie blyplek, kry jou eie motor, verdien jou eie geld en maak jou eie skuld. Kies ‘n beroep wat goed betaal. Jy wil nie eendag sukkel nie. Seniors vrees daardie dag wat iemand hulle doeke moet ruil. Diep binne voel ons soos Henley. Om afhanklik te wees, is vernederend en krenk jou eer.
Ons hou nie daarvan as ons lewens wendings neem en ons van ander afhanklik raak nie. Ons probeer dit ten alle tye verhoed. Ons het beleggings en eiendomme en behoort aan goeie pensioen- en mediese skemas.
Natuurlik moet ons voorsiening maak. Dit is onverantwoordelik om dit nie te doen nie.
Dit word egter ‘n probleem wanneer ek só voorsorg tref dat ek dink ek het niemand nodig nie, ook nie vir God nie.
Douglas Coupland, skryf aan die einde van sy boek Life after God: “Now here is my secret: I tell it to you with an openness of heart that I doubt I shall ever achieve again; my secret is that I need God – that I am sick and can no longer make it alone.”
Jesus sê: Baie gelukkig is jy as jy wat weet hoe afhanklik jy van God is.
