Die plat-op-die-aarde Gees van God se liefde
Christene verskil nogal baie van mekaar as daar oor die Heilige Gees en sy werk gepraat word. Dalk sal dit help as ek begin met die vraag: Hoekom het God sy Gees uitgestort? God stort sy Gees uit sodat ons kan aangaan waarmee Jesus begin het. “Julle sal krag ontvang wanneer my Gees oor julle …
Christene verskil nogal baie van mekaar as daar oor die Heilige Gees en sy werk gepraat word.
Dalk sal dit help as ek begin met die vraag: Hoekom het God sy Gees uitgestort?
God stort sy Gees uit sodat ons kan aangaan waarmee Jesus begin het. “Julle sal krag ontvang wanneer my Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees,” (Hand. 1:8). Vir sy dissipels sê Jesus: “Soos die Vader my gestuur het, so stuur Ek julle,” (Joh. 20).
God giet sy Gees oor ons uit sodat ons stukkies van die hemel op aarde nader kan leef. God giet sy Gees oor ons uit sodat ons kan liefhê, vrede kan maak, kan omgee, uitdeel en deel. God giet sy Gees oor ons uit sodat ons armoede kan verlig, kos kan gee vir die wat honger het, komberse en klere vir die wat koud is en onderdak vir die wat op straat moet slaap.
Dit is ongelukkig in my menslike natuur om myself te verryk, my eie belang te bevorder en net myself lief te hê. Dit is in my natuur, sê Romeine 3, om God en my naaste te haat.
Die sonde, wat in sy wese gaan oor gebreekte verhoudings met God, ander en my omgewing, het van ons onmense gemaak. Dan kom God deur sy Gees en Hy maak weer van ons mense.
Die Gees laat ons liefhê waar ons eerder wil haat, laat ons ophelp waar ons wil vertrap, laat ons omhels waar ons wil verwurg, laat ons genees waar ons wil wond, laat ons armoede verlig waar ons onsself wil verryk, laat ons vrede soek waar ons wil wraak neem, laat ons dien waar ons wil heers en laat ons voete was (Joh. 13) waar ons ander die kop wil was.
Die Gees help ons om ons kruise op te neem, eerder as krone, skottels eerder as septers (Joh. 13).
Hy is die plat-op-die-aarde Gees van God!
‘n Christusbeeld in Europa is beskadig deur bomme tydens die tweede wêreldoorlog.
Die standbeeld het sy hande en sy voete verloor. Daar het stemme opgegaan om die beeld te herstel, tot iemand gekom het voorstel dat hulle die standbeeld net so moet los en dat hulle Jesus se hande en sy voete sal wees.
Wat sien die gemeenskap as hulle na ons kyk? Jesus se hande wat versorg? Sy voete wat kos aandra? Sy hart vol deernis? Sy oë wat nood raaksien en sy ore wat luister?
Die lewe deur die Gees is ‘n praktiese, plat op die aarde, Christelike leefstyl.
In ons lewens moet die mense daarbuite die ervaring kry van Jesus se teenwoordigheid. Die Gees van God maak van ons goeie Christenmense.
