Waaroor gaan die lewe? Gaan dit oor hoeveel geld jy het, watter kar jy ry of in watter skool jy was?
Vir my gaan die lewe oor die mense met wie ek my lewe deel, geluk en liefde.
Ek dink so daaraan. Jy ry ‘n mooi kar, bly in ‘n herehuis en het jou kinders by die duurste skool ingeskryf, maar is nie werklik gelukkig nie. Agter al hierdie luukshede sit jy dalk en bekommer oor hoe jy weer hierdie maand al die geld gaan kry om vir alles te betaal en wat jy gaan doen as jou dogtertjie vir jou sê sy het nuwe skoene of klere nodig.
Dis asof mense vandag hul status bepaal deur al die luukshede wat hulle kan bekostig; asof hulle net daarop fokus om ‘n hoë status te hê. “As ek dié kar ry en in só huis woon sal ander mense goed van my dink.”
Mense is bereid om enigiemand seer te maak en op enigeen te trap om bo uit te kom. Wat word van hierdie mense se familie en vriende?
Jy trap op jou vriende, want hulle status is nie so hoog soos joune nie. Jy gebruik jou man of jou vrou om te spog, want sy is dan so mooi, of hy is so suksesvol.
Verhoudings gaan nie meer oor die innerlike nie, maar oor die uiterlike.
Ek glo dat dit nie nodig is om te wys hoeveel geld jy verdien of om meer geld te spandeer as wat jy verdien net vir daardie status nie.
Mense wat jou ken is veronderstel om van jou te hou en jou te aanvaar vir jou hart, gewoontes en geaardheid.
Ek glo mens kan nie geluk en liefde koop nie, dis iets wat jy elke dag gratis kan beleef en uitdeel. ‘n Mens is gemaak om lief te hê en geluk te deel.
Mens kan geluk en liefde in diegene om jou vind. Die groot geheim is om net jouself te wees, want om voor te gee veroorsaak onnodige spanning.
