Ons is erg gekraak en lelik gebars
‘n Vriend stuur eendag vir my ‘n e-pos wat lui dat een uit vier mense van hulle “trollie” af is. Kyk na jou drie beste vriende, lui die e-pos, en as hulle al drie normaal lyk, is jy die een! Is ons nie maar almal “gekraak” nie? In sy lied, Anthem, sing Leonard Cohen: “There …
‘n Vriend stuur eendag vir my ‘n e-pos wat lui dat een uit vier mense van hulle “trollie” af is. Kyk na jou drie beste vriende, lui die e-pos, en as hulle al drie normaal lyk, is jy die een!
Is ons nie maar almal “gekraak” nie? In sy lied, Anthem, sing Leonard Cohen: “There is a crack, a crack in everything, that’s how the light gets in.”
As ek Cohen se woorde dalk so bietjie mag verander: There is a crack in everyone, that’s how the light gets out!
In ons, brose, gebarste, gekraakte potte skuil die skat van die goeie nuus dat dinge anders kan en moet wees.
Deur die krake in ons menswees skyn God se Gees-lig. Ons stukkendheid en broosheid maak ons nie onbruikbaar nie. Die kerk en gemeentes word nie deur geestelike reuse en sondelose vromes gebou nie. Hulle bestaan nie!
Dit is in elk geval net gebroke mense wat ander die pad na die kruis kan wys, want hulle ken die pad na die kruis maar alte goed. John Bradford het dit raakgesê: “There, but for the grace of God, go I.”
God vra nie volmaaktheid nie. Net God is volmaak. God vra gehoorsaamheid.
Deur ons wil God ons wêreld seën. Ons is ‘n tuinslang in God se hande, sê Annelise Wiid; ‘n kanaal waardeur God se deernis en sy liefde na buite vloei.
Hoeveel mense het God in die afgelope week oor jou pad gestuur wie se lewe jy kon aanraak? Miskien het jy iemand se lewe vir goed verander sonder dat jy dit eers besef.
God stuur ons na huise, klaskamers, kantore, spreekkamers, werkswinkels, strate, plase en sportvelde. Hy stuur ons na die sopkombuise, kinderhuise en gevangenisse. Hy stuur ons na hospitale, apteke, howe, skole en kantore.
Ons hoef nie spesiaal daarheen te gaan nie. Ons is reeds daar, of ons gebreekte bene, gebreekte harte, gebreekte karre of lekkende dakke herstel. Dit is ook God se werk! Dit is jou bediening. Blom waar jy geplant is. God is reeds daar aan die werk.
Waar jy gaan, moet daar eilandjies van God se nuwe ryk deur die see van misbruik, korrupsie, bedrog uitbuiting, besoedeling en ander boosheid breek.
Ons moet vir die wêreld wys hoe alles moet, kan en behoort te wees. Ons moet die voorbeeld wees van ‘n alternatiewe gemeenskap.
