Verhoed dat vakansies in die pad van lewe staan
Dit is amper vakansietyd. 'n Tyd vir familie, vriende en om liefde en geskenke te deel.
POLOKWANE – Dit is amper vakansietyd. ‘n Tyd vir familie, vriende en om liefde en geskenke te deel.
Dit is ook ‘n tyd wat gekenmerk word aan feesvieringe, inkopies en vakansiepret by die strand of lui-lekkerdae saam met vriende in die somerson.
Terwyl die meeste mense die geskenk van lewe geniet, is daar ongelukkig ander wat deur siektes in die gesig gestaar word wat hulle verhoed om hierdie tyd-perk met hul gesinne en families te geniet.
“Daar is duisende mense wat daagliks op bloedoortappings staatmaak. Dit sluit vroue in wat bloed tydens bevallings verloor of die slagoffers van ongelukke.
“Die Suid-Afrikaanse Bloeddiens (SANBD) moet elke dag 3 000 eenhede bloed insamel, om aan die bloedbehoefte van pasiënte in Suid-Afrika te voldoen. Statistieke wys dat minder as 1% van ons 50+ miljoen bevolking elke dag bloed skenk, en ‘n gevaar bestaan dat hospitale gedurende die vakansies ‘n bloedtekort mag ondervind,” se Vanessa Raju, kommunikasiebestuurder van die SANBD.
In hul jongste veldtog moedig SANBD mense aan om nie toe te laat dat “vakansies in die pad van lewe staan nie”.
Dit beteken eenvoudig dat terwyl Desember ‘n wonderlike tyd is om te ontspan en terug te kyk op die jaar wat verby is, is dit ook ‘n tyd om een van die grootste geskenke te gee, naamlik die vloeistof wat elke hart laat klop, ongeag ras, geslag of ouderdom.
Hierdie is ‘n beroep op almal wat in staat is om tyd te maak gedurende die vakansieseisoen om lewensreddende bloed te skenk.
Terwyl jy tyd met jou familie spandeer, dink ook ‘n oomblik aan diegene wat hierop gaan uitmis as daar nie genoeg bloed vir pasiënte beskikbaar is nie.
Dit neem slegs 30 minute van jou tyd om bloed te skenk en dit kos nie ‘n sent nie.
Gee die beste geskenk. Gee die geskenk van lewe.
