‘n Ander wêreld wag wanneer liefde oorwin
Petrus skryf aan sy lesers (1 Pet. 2:18-25) hoe hulle teenoor hulle werkgewers of eienaars moet optree, selfs wanneer hulle onredelik behandel en vervolg word.
Petrus skryf aan sy lesers (1 Pet. 2:18-25) hoe hulle teenoor hulle werkgewers of eienaars moet optree, selfs wanneer hulle onredelik behandel en vervolg word.
Om gesag of straf wat billik is, te aanvaar wanneer ek oortree het, is gewoonlik nie te moeilik nie.
Dit is egter nie so maklik om gesag of straf te aanvaar as dit onregverdig en onbillik is nie.
Jou eerste reaksie is wraak. Staan op jou regte, slaan terug en verdedig jou eer.
In dié deel skryf Petrus (1 Pet. 2:18vv): Moenie toegee aan jou menslike natuur nie.
Waar jy kwaad met kwaad vergeld, voed jy ‘n bose kringloop van wraak en weerwraak.
“‘n Oog vir ‘n oog maak almal blind,” sê Mahatma Gandhi.
“Wie vuur met vuur beveg eindig met as,” sê Abigail Van Buren.
Laat die oordeel aan God oor, sê Paulus vir die Christene in Rome. Dit is God se reg om te straf (12:19-21).
Moenie wraak neem nie. Gelowiges moet nog verder gaan as om nie wraak te neem nie! Christene moet goed doen aan dié wat hulle kwaad aandoen.
Christene moet die kwaad deur die goeie oorwin. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as sy dors is, gee haar iets om te drink. So breek jy die bose siklus.
Dit is veel, veel makliker om goed te doen aan hulle wat vir my goed is. Om egter vir jou vyand goed te wees is nie so maklik nie. As jy dít doen, maak jy heel, genees jy en herstel jy verhoudinge.
As ons net goed is vir hulle wat vir ons goed is, het ons nog nie gedoen wat Jesus vra nie. (Lukas 6:32-36).
Hoe anders kon die Marikana-slagting verloop het? Hoe anders kon Hirosjima en Nagasaki wees? Hoe anders kan ons huwelike en gesinne wees? Hoe anders kan die verhoudinge by die skool wees?
Hoe anders kan alles wees as ek met liefde terugslaan? Hoe anders sou die wêreld lyk?
Dietrich Bonhoeffer skryf in sy bekende boek, The cost of discipleship: “The disciple is not above the master. If we refuse to take up our cross and submit to suffering and rejection at the hands of men, we forfeit our fellowship with Christ and have ceased to follow Him”.
Dit is mense wie Jesus volg wat die wêreld met ons lewens moet transformeer. Hiervoor het God vir ons sy Gees gegee.
Dit is ek en jy wat ‘n verskil kan maak deur self anders te lewe.
