Opinion

Die Miranda reël

Die Miranda reël lui: Jy het die reg om stil te bly en alles wat jy sê, kan en sal in die hof teen jou gebruik word. As jy nie iets moois vir of van iemand kan sê nie, gebruik jou goeie reg om stil te bly. As jy ‘n lekker sappige storie hoor, en …

Die Miranda reël lui: Jy het die reg om stil te bly en alles wat jy sê, kan en sal in die hof teen jou gebruik word.

As jy nie iets moois vir of van iemand kan sê nie, gebruik jou goeie reg om stil te bly. As jy ‘n lekker sappige storie hoor, en jy voel “Ek moet dit oorvertel, ek wil net ‘n bietjie detail bylas”, dink dit en sink dit sê Leonard Sweet in sy boek Soul Salsa.

Moenie ander verkleineer, oorhaastig optree en oordrewe krities wees nie. Weerhou jou daarvan om te sê wat onwaar, onnodig of harteloos is. Weerhou jou daarvan om jou oordeel oor ander met humor aan te trek en te sê: “Ek maak sommer net ‘n grappie” nie.

Wat jy vir of van iemand sê mag dalk waar wees, maar ‘n liefdelose waarheid, selfs met humor aangetrek, is niks beter as ‘n leuen nie. Moenie oordeel voordat jy nie ‘n paar kilometer in iemand ander se skoene geloop het nie; of dit nou die prostituut, die boemelaar of die verhoorafwagtende is. Werk stadig met die oordeel, vuur, swael en hel.

Jesus sê: “Kyk verby die gedrag waaroor jy ‘n mening het. Sien die mens. As jy mooi kyk sien jy iets van My in hom of haar. Kyk deur ‘n ander bril, dan kyk jy anders na daardie seun wat die onderwysers al hulle hel gee en sy haglike huislike omstandighede. Dan kyk jy anders na daardie vrou wat haar tot prostitusie moet wend om vir haar kinders te sorg.

Philip Yancey skryf: “Ons hou nie van mense wie se sondes van ons sondes verskil nie.” Moenie so fokus op die foute van ander dat jy nie jou eie raaksien nie (Matteus 7:1-6). Begin by jouself en wees eerlik met jouself. Hoe kan ek ander oor hulle foute teregwys, as my eie foute my verblind?

Dit waarvan ek ander beskuldig, is dikwels dit waarmee ek self worstel. Jou kind waarmee jy die meeste vassit, is dikwels die kind wat die meeste soos jy is.

Baie veroordeel ander om hulle eie foute en sonde te versteek. Eers wanneer jy by daardie punt kom waar jy ontslae raak van jou balk (Matteus 7:1-6) sal jy met nederigheid, liefde, begrip en deernis na ander kan uitreik.

John Bradford sou sê: “There, but for the grace of God, go I.” Ek is, ek leef en beweeg danksy God se genade.

Ek het geen, maar geen rede om te dink dat ek beter is as jy nie, want ek is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button