Wanneer ‘n beskermingsdrang die dag gevaarlik raak
My huis is ‘n diereparadys. My dogtertjie is ‘n diereliefhebber van formaat. Sy sal haar laaste broodkorsie vir ‘n hond gee as sy dink die hond het dit nodig. Hierdie pragtige eienskap het ons egter al ‘n paar benoude oomblikke besorg. So ‘n paar jaar gelede, die meisiekind was drie jaar oud, het een van …
My huis is ‘n diereparadys. My dogtertjie is ‘n diereliefhebber van formaat. Sy sal haar laaste broodkorsie vir ‘n hond gee as sy dink die hond het dit nodig. Hierdie pragtige eienskap het ons egter al ‘n paar benoude oomblikke besorg.
So ‘n paar jaar gelede, die meisiekind was drie jaar oud, het een van ons honde kleintjies gekry en kleinding het haarself aangestel as honde-engel. Sy het veral ‘n vreeslike band gesmee met die kleinste van die werpsel, die pragtigste swart-en-wit hondjie.
Die klein hondjies se ogies was nog nie eens oop nie toe ‘n vriendin en haar twee seuns inloer vir ‘n kuier.
Die kleingoed het heerlik baljaar, soos besetenes op die trampolien gespring en rondgehardloop asof die dag van môre nooit gaan aanbreek nie. Dit was ‘n heerlike kuier vir die kinders en veral vir die mammas.
Teen die tyd wat die maatjies vertrek het, en dit was vir jou ‘n behoorlike tranedal toe die drie van mekaar moes afskeid neem, was my meisiekind voos gespeel.
Na die groot afskeid het ek en my wederhelfte opgeruim en tussendeur na die meisiekind se gekwetter oor die heerlike speeltyd geluister. Met groot trots het sy vertel dat sy die swart-en-wit hondjie veilig gehou het.
Later het ons gaan kyk hoe dit met die hondjies gaan. My hart het amper gaan staan toe ek besef die swart-en-wit hondjie is nêrens te vinde nie. Ons het oral gesoek; die huis van bo tot onder omgekeer.
Op daardie oomblik het ons onthou dat ons poplappie mos vertel het dat sy die hondjie veilig gehou het. Erg benoud het ons uitgevis waar die hondjie is. Met ‘n gesiggie wat straal van die trots antwoord sy: “In my rugsak”.
My hart het heeltemal ophou klop toe ek onthou dat sy die hele tyd wat die maatjies daar was die rugsak op haar rug gehad het. Sy het gehardloop, gespring, gehuppel en danspassies gemaak, alles met die babahondjie in die rugsak op haar rug!
Versigtig het ons die hondjie uit die rugsak gehaal. My hart het eers normaal begin klop toe ek besef die dingetjie lewe nog en het geen beserings in die proses opgedoen nie. Hy het rustig aan sy ma gedrink en snoesig aan die slaap geraak, sy rugsakavontuur vergete.
Nadat alles na normaal teruggekeer het, het ons haar gevra wat haar besiel het om die arme ou hondjie in haar rugsak te sit. Dis toe dat sy my mond snoer en sê Dora the Explorer sit dan goed in haar rugsak om dit veilig te hou.
Hoe argumenteer met sulke logika?
