Waar gaan ‘the need for speed’ eendag eindig?
Gedurende die laaste week voor die bekendmaking van die voorlopige ongeluksyfers en die sterftes gedurende die periode vanaf 1 Desember wonder ek oor wat die "eindtelling" in ons provinsie sal wees.
Gedurende die laaste week voor die bekendmaking van die voorlopige ongeluksyfers en die sterftes gedurende die periode vanaf 1 Desember wonder ek oor wat die “eindtelling” in ons provinsie sal wees.
Vroeër syfers wat bekendgemaak is toon ‘n sterftesyfer wat reeds oor die 70 was na 98 ongelukke in Limpopo. Een Limpopo motoris moes R2 000 borg betaal nadat hy teen 177km/h gevang is in ‘n 120 km/h sone. Landwyd is 1 357 sterftes aangeteken teen laasweek Donderdag. Dit is gelykstaande aan drie Boeing 747s vol mense, talle wat gesterf het weens ander mense se onbedagsaamheid en kansvattery.
Ons moes die pad Gauteng toe noodgedwonge driemaal aanpak tydens die vakansieperiode en dit was elke keer, en veral die eerste Sondag in Januarie toe mense begin huiswaarts keer het om te werk, ‘n nagmerrie met talle ongelukke langs die pad.
Ons het die spesifieke dag gedeeltelik op die N1 tussen Pretoria en Polokwane en gedeeltelik op die R101 omdat ons iets in Mokopane moes oplaai. Op die snelweg vanaf Pretoria tot by die die tolpad by Kranskop was veral die N1-suid erg besig, met twee ernstige ongelukke. Op die N1-suid vanaf Polokwane het die voertuie reeds teen ongeveer 12:00 kilometers ver opgedam.
Verkeerspolisie probeer tevergeefs keer dat motoriste meer bane annekseer en indruk om gouer deur die tolhek te gaan. Voertuie op pad na Gauteng het by die opgedamde rye verbygegaan en teen ‘n geweldige spoed sommer op die een baan van die (veel stiller) N1-noord gery.
Ons moet net kort-kort koes vir haastige aankomende voertuie in ons bane. Ek SMS vir RSG en vra mense om geduldig te wees.
Op die R101 op pad na Mokopane, het dit nie veel beter gegaan nie. Motoriste het baie kanse gevat en ons moes ‘n paar keer ernstig rem trap om ‘n kop-teen-kop botsing te vermy.
Elke keer tydens vakansies en langnaweke is dit dieselfde storie. Ten spyte van waarskuwings gaan mense nog steeds op blinde hoogtes en by sperstrepe verby.
Mense ry met erg oorlaaide sleepwaentjies, drink en bestuur, ry onverskillig en te vinnig, ry met gekoopte lisensies. Ongelukke kos ons ekonomie meer as R310 biljoen en die Padongelukkefonds het in 2012 reeds meer as R14 biljoen rand per jaar uitbetaal aan slagoffers van botsings.
Waar gaan dit eindig?
