Opinion

Jou ingesteldheid in 2014

'n Tuinier het met 'n geleentheid na die kasteel van die koning gegaan om aan hom 'n bossie wortels te gee.

‘n Tuinier het met ‘n geleentheid na die kasteel van die koning gegaan om aan hom ‘n bossie wortels te gee.

Hy het verlof gevra by die sekretaris van die koning om persoonlik die wortels te oorhandig. Die sekretaris het die versoek gerig tot die koning en die tuinier het die koning ontmoet met die spesiale bossie wortels in sy hand.

Die koning het vir die tuinier gevra wat die rede vir sy besoek was, waarop die tuinier genoem het dat hy graag die eerste bossie van die nuwe jaar se oes aan die koning wou gee.

Die koning was verbaas omdat hy geen bevel gegee het dat die tuinier of enige onderdaan in sy koninkryk so moes optree nie. Die koning was opgewonde en het ‘n hele vyf hektaar van die beste landbougrond aan die tuinier geskenk.

Die sekretaris het alles fyn dopgehou en besluit om ook ‘n geskenk vir die koning te gee. Hy het gereken dat indien die tuinier vyf hektaar van die beste landbougrond gekry het, sou hy dalk nog meer gekry het vir die geskenk wat hy gedink het om te gee.

Die sekretaris het ‘n perd gekoop en dit as geskenk vir die koning gegee.

Die koning was dankbaar en het sy dank duidelik teenoor die sekretaris betuig. Die koning het egter geen grond aan die sekretaris gegee nie. Die sekretaris was uit die veld geslaan en baie mismoedig.

Die koning het die sekretaris gevra waarom hy so mismoedig is en die sekretaris het geantwoord dat die koning vir ‘n bossie wortels ‘n volle vyf hektaar grond gegee het maar vir ‘n perd absoluut niks.

Die koning het geantwoord dat die tuinier die bossie wortels uit sy eie gegee het sonder om enige iets terug te verwag. Die grond is aan hom gegee om sy passie verder uit te leef en ook ander tot seën te wees.

Die koning het egter vir die sekretaris gevra om eerlik met homself te wees en te antwoord vir wie hy die perd regtig gegee het. Die sekretaris het die perd gegee vir die koning maar tot sy eie voordeel.

Die nuwe jaar gaan aan my en jou ook die vraag vra, vir wie gee jy regtig jou seënwoorde, jou skenkings, jou trooswoorde, jou vergifnis en genade. Die nuwe jaar is nie ‘n jaar waar ons onsself aan ander hoef te bewys of onsself hoef te oortuig dat ons verander het nie.

Wanneer ek ander moet oortuig oor my verandering het geen ware verandering plaasgevind nie.

Verandering word duidelik waargeneem deur mense sonder dat een woord gerep word.

Hierdie nuwe jaar vra eerder van ons heiligheid en dit beteken dat ons ‘n nuwe ingesteldheid sal moet hê tot ons familie, vriende, kollegas en elkeen wat ek as my vyand, ondergeskikte en opponent sien.

‘n Nuwe ingesteldheid dat ek kan vryspreek sonder om terug te hou en te vergeld. Hierdie nuwe ingesteldheid bring nuwe begeertes en nie verpligtinge nie. Dit bring nuwe vreugdes en nie nuwe bedrywighede nie. Hierdie ingesteldheid vir 2014 bring nuwe skatte, ervarings en geestelike groei, nie nuwe opdragte nie.

Vanjaar kan ons leef en gee sonder om terug te verwag omdat ons die Here se genade ontvang het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button