
Dit is die Maandag voor Kersfees ongeveer 05:15vm. Lourens Nel sluit die deur van sy houtwerk onderneming in Voorbaai oop. “Vandag het ek baie werk…” dink hy. Dit is die besigste tyd van die jaar en almal soek hulle bestellings al “gister”.
Hy stoot sy kantoordeur oop en stap in. “Net gou ‘n draai in die badkamer gooi en dan kan ek begin…” dink hy. Aangesien hy ‘n vroeg oggend besoeker verwag, los hy sommer sy kantoordeur oop. Toe hy in sy werkskamer terugkom, sien hy hulle…
Twee jong mans het die werkskamer binne gekom. Elkeen het ‘n mes in sy hand. Hy word yskoud. Dit kan net een ding beteken. “Wat wil julle hê?” vra hy. “Ons soek jou beursie!” sê die een man en beduie dreigend met sy mes. Binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde moet Lourens ‘n besluit neem. Gaan hy vlug of gaan hy veg? Gaan hy oorgee of gaan hy hom teësit? Daar is risikos na beide kante toe. Hoe weet mens “…hoe die koekie gaan krummel…”
“My beursie is in daai laaitjie” sê hy en beduie na ‘n laai in ‘n houtkas daar naby. Hy voeg ook sommer daad by die woord en stap na die laai toe. Sy beursie is natuurlik nie in die laai nie, maar in die laai is twee baie groot selfgemaakte kapmesse wat hy lank tevore daarin gebêre het. Hy het onlangs nog gedink hy moet ontslae raak van die goed; dit lê net in sy pad.
Die twee aanvallers se oë is vasgenael op hom toe hy die laai ooptrek. Hy gryp die twee messe en swaai om. Nou is dit hulle beurt om te skrik! Hier staan hy voor hulle met twee GROOT messe wat baie groter is as hulle messe…
Vir ‘n oomblik is daar ‘n geskokte stilte. Gaan hulle nou tot aanval oorgaan of gaan hulle vlug? Maar toe draai altwee net daar in hulle spore om en hardloop uit. Toe Lourens buite kom met die twee messe nog steeds is sy hande was daar geen spoor van hulle meer te sien is nie.
Hy draai met ‘n groot sug van verligting om en gaan terug na sy werkskamer. Hierdie keer het die “koekie vir hom reg gekrummel…” Dit kon maklik andersom gewees het. Hy kon nou bebloed in sy werkskamer gelê het sonder sy beursie…
“Dankie Here vandag was U vir my goed …” prewel hy. “Jy hoef nie bang te wees… vir die aanvalle oordag nie… Al val daar tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.” (Ps91;5-7) www.dsgielie.net
