Jonges laat ‘trou’ beslis na perdekoop lyk, klink
Elke jaar vier mense regoor die wêreld Wêreld Huweliksdag om die huwelik as grondslag van die gesin te vier.
POLOKWANE – Elke jaar vier mense regoor die wêreld Wêreld Huweliksdag om die huwelik as grondslag van die gesin te vier.
Dié dag word afgestaan aan die skoonheid, opoffering en vreugde wat dié instelling bring.
Die vyfjarige kleuters van Erica Pre-primêre Skool het hulle eie idees oor die huwelik en wanneer ‘n mens mag trou. Review hoor wat hulle te sê het oor hulle ouers se troudag en ‘n wanneer mens mag trou.
“Hulle het by die kerk getrou en toe babas gekry,” is Janrich Pretorius se mening oor sy ouers se troudag. “Mens moet soveel of soveel jaar oud wees voor jy kan trou,” sê hy terwyl hy eers ses en toe 10 vingers in die lug hou.
“My pappa en mamma was só oud, maar my pappa het baie sterk spiere gehad en my mamma ‘n baie mooi trourok,” sê hy.
Nadine Smit reken haar ouers het getrou omdat hulle graag wou soen. “‘n Mens moet eers so oud wees soos ouma en oupa voor jy kan trou. Hulle is nou 30,” sê sy.
“Mammas en pappas trou, want hulle wil ‘n baba kry,” verduidelik Johan Liebenberg. Johan dink net groot kinders mag trou wanneer hulle sewe jaar oud is.
Juan Dreyer weet waar sy mamma en pappa ontmoet het. “Hulle het mekaar op universiteit ontmoet en wou twee babas hê, toe trou hulle,” sê hy. “‘n Mens moet 28 jaar oud wees voordat jy kan trou,” verduidelik hy verder.
“My mamma en pappa het getrou, want ons was nog klein. Toe gaan ons in my mamma se maag en toe word ek vyf. Mamma het mooi getrou en pappa het ook mooi getrou, want mamma het vir hom ‘n geskenk gemaak,” vertel Anneke Grobler. “Pappa was soveel soos my vyf en nog vyf toe hy getrou het.” sê sy.
Lumicke Groenewald weet waarom haar ouers getrou het. “My mamma en pappa het getrou om ‘n babatjie te kry. Ek weet nie hoekom nog nie,” sê sy.
Volgens Wernich van der Walt moet mens eers 30 wees en babas wil hê voordat jy kan trou. “Mens moet eers trou,” verduidelik hy.
Peter O’Reilly weet ietsie van romanse af. “Hulle het mekaar gesien en van mekaar gehou,” vertel hy van sy ouers se besluit om te trou. “Mens moet sewe jaar oud wees voor jy kan trou,” sê hy.
“My pappa en mamma het getrou om kindertjies te kry en my pappa het gedink my mamma is mooi,” verduidelik Lelanie Schwartz. “‘n Mens kan trou as jy agt jaar is, want dan is jy groot,” vertel sy.









