Jy sal betaal, ek laat nie met my mors nie!
Matteus skrywe sy evangelie aan Joodse Christene in die stad Antiochië in Sirië. Die omstandighede in die stad was haglik – nou gangetjies, oop riole en selfs lyke in die strate. Sowat elke 15 jaar het daar die pes uitgebreek wat duisende lewens geëis het. Antiochië was ‘n dig bevolkte stad, met sowat 120 mense …
Matteus skrywe sy evangelie aan Joodse Christene in die stad Antiochië in Sirië. Die omstandighede in die stad was haglik – nou gangetjies, oop riole en selfs lyke in die strate.
Sowat elke 15 jaar het daar die pes uitgebreek wat duisende lewens geëis het. Antiochië was ‘n dig bevolkte stad, met sowat 120 mense wat per 800 vierkante meter gewoon het! (120 mense in die area, bietjie groter as die area tussen die middellyn en die 10 tree stippellyn van ‘n rugbyveld).
Jode, Arabiere, Fenisiërs en Joodse Christene het hier gewoon en daar het gereeld geweld tussen die groepe uitgebreek.
Wanneer die Romeinse soldate die orde moes herstel het hulle dikwels voor die voet doodgemaak.
Geweld was die norm. Vir die Christene in hierdie omstandighede skrywe Matteus: Moenie geweld met geweld antwoord nie (5:43-48). Geweld baar meer geweld. Wie vuur met vuur beveg eindig met as. Moenie die reg in jou eie hande neem nie.
Die mens se eerste reaksie is gewoonlik wraak.
Jy sal hiervoor betaal. Jy is gemolesteer, besteel of verkul. Jy koester gevoelens van wraak!
As jy die goed in jou dra, dan is jy nie vry nie, maar die slaaf van jou gedagtes en gevoelens wat net nie weggaan nie. Keer op keer kom dit terug – dikwels erger as voorheen. Jy is die gevangene!
Dit is God se reg om te straf; Hy sal vergeld, skrywe Paulus in (Rom. 12:19), maar ons wil dit nie in God se hande laat nie.
Dit is ‘n mooi gedagte, maar dit is nie maklik om dit te doen nie – nie waar nie?
Wraak is om vir God te sê – ek vertrou U nie om hierdie situasie te hanteer nie. Ek is nie seker wat U gaan doen nie. Gaan U die ander te lig straf of oorsien?
Gaan U vergewe? As ek in beheer is, kan ek darem die aard en die omvang van die straf bepaal. Dit is asof ons vir God wil sê: Ek dink ek kan U werk beter as U doen.
Wraak bevredig nie, en wraak los nie probleme op nie.
Trouens, wraak maak alles net erger en erger. Wraak sneller ‘n bose kringloop van wraak en weerwraak. Dit hou nooit op nie. Dit raak net meer en meer intens. Dit spiraal af en af.
In die fliek, The War of the Roses begin mnr. en me. Rose se konflik met skynbaar onbenullighede, maar hulle konflik word al groter, meer intens, wraak, weerwraak. Die uiteinde? Niks bly oor nie!
Wraak werk nie. As jy wil terugslaan, slaan terug met die liefde.
