Ek sit onlangs langs die sportveld waar leerders van bekende hoërskole in die dorp teen mekaar rugby speel.
Die toeskouers om die veld het bestaan uit ouers, broers en susters en ander leerders.
Ongeveer ‘n meter van my af het twee leerders in hulle skoolklere gesit. Ek kon duidelik hoor wat hulle sê en dit het my rooi onder die kraag gemaak, van skaamte.
Elke tweede woord was kras of onder die gordel en dit terwyl die leerders hul skool verteenwoordig. Dit het ook nie geklink asof hulle omgee dat ander mense hulle kon hoor nie.
‘n Paar dae later ry ek langs ‘n motor met twee leerders in. Beide leerders het heerlik sit en rook, terwyl hulle nog hul skoolklere aangehad het. Dit het kompleet vir my gelyk asof hulle trots was om te kon rook terwyl hulle hul skoolklere aangehad het.
Is daar geen trots meer vir skool en skoolklere nie? Wie moet die trots aan die kinders leer, die ouers of die onderwysers?
Net so het ek een aand in ‘n gewilde kuierplek in die stad saam met vriende gekuier.
Hier het ek vele leerders wat in onderskeie skole in die dorp se gr. 12-klasse is herken. Ek het besef hulle is seker darem al 18-jaar oud en mag wettiglik in dié kuierplek wees, maar is dit ‘n plek vir skoolkinders om in uit te hang?
Kan daar nie ‘n wet gemaak word wat skool kinders verbied om in sulke plekke uit te hang, ongeag van hul ouderdom nie?
