Opinion

Is dit regtig nodig om oor alles so te kla?

Ek weet nie of dit net in Suid-Afrika is en of dit in ander lande ook gebeur nie, maar ek ondervind wel dat die verskynsel oral in Suid-Afrika ewe groot is, die onderwerp verskil net van plek

Ek weet nie of dit net in Suid-Afrika is en of dit in ander lande ook gebeur nie, maar ek ondervind wel dat die verskynsel oral in Suid-Afrika ewe groot is, die onderwerp verskil net van plek. Die verskynsel is mense wat kla en mor.

In die winter hoor mens dikwels: “dit gaan goed, net koud. Ek wens dit wil nou somer raak”. In die somer sal dieselfde persoon kla oor die hitte.Almal wat boere ken, ken ook die sêding: óf te droog óf te nat. Reën dit, kla die boere, reën dit nie, kla hulle ook.

By ons werksplekke gaan dit ook so. Ons kla oor die tipe werk of die hoeveelheid, sonder om te dink dat dit ‘n keuse was wat ons gemaak het die dag toe ons nie net aansoek gedoen het vir die werk nie, maar ook ‘n kontrak geteken het.

Mense sê dikwels: “ek haat my werk, dit betaal nie en ek werk my dood”. Tog is daar ‘n oplossing: kry ‘n ander werk.

Maar vir die meeste van ons, is dit soveel makliker om te kla.

Kla verander egter niks aan die situasie nie. Inteendeel, dit maak jou net meer negatief, wat veroorsaak dat jy meer gaan kla, en met nog minder tevrede gaan wees.

Hoeveel van ons staan vroeg op ‘n koue wintersoggend op en begin kla terwyl ons met ‘n koppie koffie in ons hand, pantoffels aan die voete en kamerjas om die skouers voor ‘n verwarmer staan? Waaroor kla ons dan? Die koue? Dink ons vir een oomblik aan dié wat in dieselfde koue hulle koerantpapierbeddegoed opvou en nie kan onthou wanneer laas hulle iets te ete, wat nog te sê warm koffie, gehad het nie.

Terwyl ons in ons lugverkoelde kantore sit en kla oor die werk en die hitte, is daar mense daar buite wat werk vir peanuts terwyl die son hulle velle verskroei.

Ek is iemand wat gereëld kla. Ek kla oor die hitte en koue, reën en droogte. Ek kla ook oor stygende petrol- en kospryse. Ek kla ook omdat ek nie die mees luukse elektroniese toebehore in my huis het nie.

Ek kla oor die grootte van my kar se enjin, maar ek vergeet dat daar mense is wat skaars ‘n huis het, wat nog te sê toebehore.

Mense wat dag vir dag kilometers werk toe moet loop, omdat hulle nie ‘n kar het nie.

Ek maak nie sommer nuwejaarsvoornemens nie, maar dié jaar het ek besluit ek gaan probeer om minder te kla. Ek hoop ek gaan dit regkry.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button