BlogsOpinion

Kies tussen die nou poort en die breë poort

Gaan in deur die nou poort (Matteus 7:13 vv.)

Gaan in deur die nou poort (Matteus 7:13 vv.)

Die luisteraars het die beeld van die twee poorte baie goed verstaan: daar was in meeste stede twee soorte poorte. Breë en nou poorte. Baie het elke dag deur die breë poorte in en uit gegaan.

Die nou poorte was in ‘n muur aan die binnekant van die stad. Hierbinne was die tempel, paleis en markplein. Die mense vir wie Jesus preek kon nie hier ingaan nie. Hulle kon nie by die tempel kom nie.

Omdat die Jode die tempel as God se woonplek beskou het, was dit hulle ervaring dat hulle van God vervreem is. Hulle kon dus ook nie handel dryf nie, want hulle kon nie by die markplein kom nie.

Hoe laer jou status, hoe verder het jy van die stad se kern gewoon en daarom het baie van die mense buite die stad gewoon.

Vir hulle sê Jesus: jy is welkom in my Vader se nuwe ryk. Hier is vir jou ‘n plek in God se wêreld. By God tel status, geleerdheid en rykdom nie punte nie. Voor Hom is almal gelyk.

Gaan in deur die nou poort en word deel van ‘n beweging van mense met ander waardes. Kom saam, kom, volg My op hierdie pad van anders leef. Lewe só dat jou wêreld al meer soos My Vader se nuwe wêreld lyk.

Nie almal vind die pad nie. Sien jy kans? Daar is ‘n ander pad ook, en daar word nie veel van jou gevra nie.

Wil jy deur die nou poort ingaan? Dit gaan alles van jou vra. Dit gaan van jou vra om jou van jouself te stroop. Dit gaan van jou vra om jou te stroop van jou sug na meer, om jouself te stroop van jou onwilligheid om te vergewe, om jouself te stroop van selfsug, haat, eiegeregtigheid en selfvoldaanheid. Dit gaan van jou vra om nie krampagtig aan jou regte vas te klou nie. Dit gaan van jou vra om jouself vry te maak van alles wat jou terughou.

Die poort is nou. Jy kan nie met al jou bagasie daar deur nie. Dit gaan van jou nog ‘n bekering vra.

Op dié pad moet jy lig reis. Op dié pad moet jy in eenvoud lewe sodat ander kan lewe. Hierdie pad is die pad van hoop, herstel en genesing. Op hierdie pad word jy die antwoord op gebede. Op dié pad ontmoet hemel en aarde en word stukkies van God se nuwe aarde om, in en deur jou waar.

Hier lewe ons só dat dít waarna ons uitsien aan die anderkant van die dood reeds aan hierdie kant van die dood waar word!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button