As deel van ‘n familie wat motor- en motorfietsmal is, is dit altyd vir my interessant om te weet hoe elke ding in die enjin werk en hoe vining of hoe ver jy alles kan druk.
Ek het besluit om bietjie meer oor die menslike liggaam uit te vind en om dit met die gemiddelde motor se enjin te vergelyk.
Die hart is soos ‘n motor se enjin, as hy nie werk nie, kan die kar nie ry nie. Sonder ‘n hart wat klop sal ‘n mens ook nie kan lewe nie.
Die mens se hart klop teen sowat 70 slae per minuut.
Dit beteken die menslike hart klop gemiddeld 100 000 keer per dag.
Wat dit vir my interessant maak, is dat ‘n olifant wat soveel groter as die mens is, se hart teen net 27 slae per minuut klop en ‘n piepklein kanarie se hart teen 1 000 slae per minuut klop.
In die verlede was mans en vroue nie as gelykes gesien nie. Net so heers die mans meestal in motorsport.
Met die hart is dit die waarheid dat vroue en mans nie gelyk is nie. ‘n Man se hart weeg sowat 283,5 gram, terwyl ‘n vrou s’n net 226,8 gram weeg.
Nie net is ‘n vrou se hart kleiner as ‘n man s’n nie, maar die tekens dat haar hart in die moeilikheid is, is ook nie so duidelik nie.
Die menslike hart is baie sensitief en, alhoewel dit soms voel of jou hart in ‘n duisend stukkies gebreek word, is dit nie werklik moontlik nie.
Dus is ‘n gebreekte hart nie so maklik om te herstel soos ‘n sportmotor se enjin nie.
Hou jou hart gesond en veilig, sodoende sal jy jare en jare lank gelukkig met jou liggaam se enjin “rondry”.
