BlogsOpinion

Sê nou net Jesus het dit wat Hy gesê het regtig bedoel?

Tjaart Meyer

Sê nou net Jesus was ernstig en Hy het dit wat Hy gesê het regtig bedoel?

Is ons respek vir dit wat Hy gesê so sterk dat ons bereid is om ons te bekeer en ons gedrag te verander? Sou ons kennis neem, dit moontlik bedink en dit selfs op Facebook gaan “like”, of is dit wat Jesus sê dalk so radikaal en vra dit soveel van my dat ek nie daarvoor kans sien nie?

Sommige, as hulle die woord koninkryk hoor, dink: lewe na die dood, maar Jesus praat van veel meer as net eendag.

Die koninkryk waarvan Jesus praat is veral wat gebeur waar sy navolgers so lewe dat God se droom vir ons wêreld waar word. God se ryk kom daar ek só lewe dat hierdie aarde al meer soos God se aarde lyk.

Dit is in die toekoms, maar ook in die hede; vandag, maar ook eendag. God se nuwe ryk breek deur met die geboorte van ‘n kind in Bethlehem en die fondamente word stewig gelê aan ‘n kruis en ‘n leë graf.

God se nuwe ryk kry momentum waar hy aan ons sy Gees gee en vir ons sê: gaan aan waarmee my Seun begin het.

In die Ons Vader-gebed (Matteus 6:10) leer Jesus ons om so te bid: laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Anders gesê: laat U aarde, al meer soos die hemel lyk. Vir die gelowiges in Rome sê Paulus dat die koninkryk kom waar hulle gehoorsaam aan God lewe (14:17).

Ons het niks om te verkoop nie. Ons besigheid is nie om meer mense van die wêreld in die kerk te kry nie, maar om so in die wêreld te gaan lewe dat daar meer kerk in die mense van die wêreld kom en dat al hoe meer mense sal begin lewe soos mense wat aan Hom behoort.

Kom, nooi Jesus die mense uit wat na sy preek op die berg geluister het. So lyk die lewe in my Vader se nuwe koninkryk.

So lyk die gedragskode in my Vader se nuwe ryk. Hier is my Vader se droom, sy bloudruk vir ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. As julle so lewe dan word daar stukkies van die hemel op aarde waar! As julle so lewe (Matteus 5-7) kom die hemel sommer daar in julle stad.

Ek glo julle kan dit doen! Wie kom saam? Wie is in en wie is uit?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button