‘n Goeie kollega, Frikkie Delport se suster en haar man, Tommie en Elsibé Venter het in die Middellande van Zimbabwe geboer.
Die eerste paar jaar na die grondbesettings is hulle nie gepla nie. Op ‘n dag is hulle egter in kennis gestel dat hulle plaas aan ‘n regeringsamptenaar toegeken is.
Talle hofsake volg en hulle was beperk tot die plaashuis en die melkery. Buite die omheinings het die besetters begin ploeg en plant.
Hulle bokke, beeste en hoenders het oral rondgeloop. Intimidasie (soms fisiek) het op ‘n gereelde basis gebeur. Op ‘n dag het hulle die tyding gekry dat hulle die plaas finaal moes ontruim.
Sou hulle weier, kon Tommie ses maande gevangenisstraf kry vir betreding van staatseiendom. Op Tommie se vraag wanneer hulle van die plaas af wees, kom die antwoord: “Julle ry nou plaas toe, pak in, en as die son môre opkom, moet julle af wees.”
Bygestaan deur die ander boere in die omgewing het hulle onmiddellik begin pak. Toe die son opkom was hulle klaar. Die vrou van die amptenaar wat die plaas gekry het, het buite op die gras gesit.
Elsibé vertel dat daar ‘n vrede oor haar gekom het.
Sy het na die vrou toe gestap en vir haar gesê: “Ons is klaar – kom ek vat jou deur die huis en wys vir jou waar alles is.”
Sy en Tommie woon steeds in Zimbabwe.
Donker kan nie donker verdryf nie, sê Martin Luther King, net lig kan. Haat kan nie haat verdryf nie, net liefde kan.
In ons land met al die aggressie, rassisme, oorlogliedjies, geweld, bedrog en omkopery het ons seker oorgenoeg rede om wraak te neem, maar die Bybel sê: Slaan terug, slaan hard terug – met liefde (Rom. 12:17-21). As iemand jou boklere wil vat, gee hom ook jou onderklere, sê Jesus (Luk. 6:27-36).
Die “onderklere” was eintlik jou klere, die bokleed het jy vanaand gebruik om onder te slaap (Eks. 22:26-27). Die wet van die liefde gaan verder as die wet op papier. Gee hom jou klere en jou “kombers.”
Waar jy dit doen breek God se nuwe ryk al verder en verder deur. Waar ons dit doen breek eilande van God se nuwe hemel en sy nuwe aarde deur ‘n see van boosheid.
Ons is van ‘n ander wêreld, ons is burgers van ‘n ander ryk. Ons slaan terug met die liefde. Dis moeilik, of selfs onmoontlik, nie waar nie? Hierom gee God vir ons sy Gees – sy gesindheid.
Ons is nuut gebore, uit God gebore. Net God kan ons van ons natuurlike selfsug en hebsug verlos.
Net die Gees van God kan ons help om ons vyande lief te hê, om hulle te omarm wat ons wil verwurg, om lewensruimte te gee waar ons wil verjaag, om te laat lewe waar ons wil moor! Dink net hoe anders kan alles wees as ons dit doen.
