BlogsOpinion

Die turksvy-mensies

Ek wou, soos altyd, maar net weer verby die turksvy smouse ry.

Ek wou, soos altyd, maar net weer verby die turksvy smouse ry.

Maar hierdie keer het ‘n stemmetjie vir my gesê; “Hou stil…” Hulle staan op die N2 se brug by die Klein Brakrivier-afrit. Ek noem hulle sommer “turksvy-mensies”, die verklein woord, want hulle is almal maer en lyk of hulle lanklaas ‘n goeie bord kos gehad het. Hul kleredrag is maar skamel en die wat daar is, is gehawend en stukkend…

“John” vang my oog. Hy swaai ‘n turksvy aan ‘n latjie soos ‘n reuse suigstokkie voor hom rond om motoriste se aandag te trek. “Waar kry julle die turksvye?” vra ek. “Daar bo teen die rant, meneer…” sê hy en beduie met sy hand in die rigting van Mosselbaai. “Ons pluk hulle in die veld en dan kom verkoop ons hulle hier langs die pad. Dit is R20 vir 20 meneer…”

“Drink jy?” Waag ek dit om te vra. “Ja meneer, maar darem nie baie nie want ek dink aan my kinders…” (Ek wonder, hoe baie is “…nie baie nie…”. )

Hy het drie kinders by die huis, vertel hy, en sy vrou het hom verlede jaar ontval. Hy kom van ons plaaslike informele nedersetting, Power Town af.

“Ek moet sê jy lyk vir my heel nugter…” merk ek op. Eerlik antwoord hy: “Ek het darem al vandag twee doppies by my vrinne gekry, meneer…”

Ek gee hom toe R20 vir die turksvye en ook ‘n geldjie om te poseer vir ‘n foto. Hy doen dit met trots.

Dit maal in my kop… hoe kan ‘n mens die mensies uit die armoede siklus oplig en voorthelp op die welvaartsleer? As elke persoon wat die pad gebruik net een maal EEN sakkie turksvye vir R20 koop, net EEN maal… kan hulle lewe. Jesus se woorde maal deur my kop “… die armes sal julle altyd by julle hê…” (Mat 26:11) Maar ook die Ou Testamentiese vermaning om altyd as jy jou land of wingerd oes vir die armes iets agter te los van jou druiwe, koring of olywe (Deut 24:19ff).

Toe ek in my motor klim en wegry wonder ek – “As die turksvy-tyd verby is, waarvan gaan hulle dan leef?” (www.dsgielie.net)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button