POLOKWANE – Hierdie week is die fokus op skole in die Skole Gesondheidsweek en Review het met Lizel Marais, ‘n dieetkundige van Polokwane gesels om uit te vind hoe ‘n gesonde kosblik lyk.
“Ideaal gesien, moet die helfte van die kosblik uit groente of vrugte bestaan. Hierby voeg jy dan ‘n klein porsie maer proteien, nie groter as die handpalm van die persoon wat die maaltyd gaan eet nie, by. Voeg een vuisgrootte (van die persoon wat die maaltyd gaan eet) lae GI stysel by, en dan kan een porsie vet by die maaltyd gevoeg word,” vertel sy.
Sy verduidelik dat dit nodig is dat ‘n kind ‘n gesonde ontbyt eet. “Kinders gaan slaap saans vroeg en dan is daar ‘n vasperiode van min of meer 12 ure. Kinders se energievlakke raak dan baie laag en hulle het die nodige energie-kosse nodig om hul weer gereed te kry vir die dag se aktiwiteite.”
Marais vertel dat kinders wat ontbyt eet beter konsentrasie en kort termyn geheue toon en meer gefokus is. Hulle handhaaf ook ‘n gesonde gewig wanneer hulle daagliks ‘n gesonde ontbyt eet.
“Oplettendheid in die klaskamer kan ‘n belangrike aanduiding wees of ‘n kind ontbyt gehad het of nie. In teenstelling kan moegheid en gebrek aan konsentrasie by ‘n kind voorkom wat ontbyt en soms pouses kos uitgelaat het.”
Verder sê Marais dat kinders wat ontbyt eet meer aandag by die skool gee en dat sommige van hulle beter vaar op skool en meer geinteresseerd is om te leer by die skool. “‘n Voedsame ontbyt help dus om kinders se liggame en breine voor te berei vir die besige dag wat voorlê. ‘n Hoë vesel ontbyt met koolhidraat, proteien en goeie vet is ‘n goeie keuse.”
“Kinders kan ook soms hiperaktief voorkom of gedragsprobleme toon. Kinders wat gesonde kosse eet se bloedsuikervlakke bly min of meer normaal en kan verder die dag se take goed uitvoer met die ekstra gesonde snoephappie (snack) wat ingeneem is tydens pouse.”
Sy vertel dat moegheid en konsentrasie probleme ook kan voorkom. Daar is alternatiewe vir soetgoed en aartappel skyfies in die kosblik. Versnaperings en snoephappies het wel ‘n plek in ‘n gesonde dieet.
“Versnaperings behoort ‘n laer glukemiese indeks (GI) te hê en laag in vette wees in ooreenstemming met goeie voedingsbeginsels. Dit sal die bloedglukosevlakke egalig hou en voorkom dat dit te laag daal, wat hongerpyne kan veroorsaak. Water is ‘n belangrike deel van alle versnaperings. Ontwatering word dikwels verkeerdelik as honger vertolk. ‘n Toereikende waterinname sal die liggaam help om optimaal te funksioneer. Onthou, ‘n kind het minstens vier koppies water per dag nodig.”
Verder sê sy dat vrugte die beste versnapering is wat die natuur bied. Dit is gesond, geredelik verkrygbaar en gerieflik om orals saam te neem. “Meer vullende versnaperings is gelykstaande aan ‘n ligte maaltyd. Onthou die grootte van die styselporsie behoort nie meer te wees as ‘n vuisgrote laer GI stysel nie en die kind moet nie meer as twee vrugte op ‘n slag eet nie.”
Marais se raad aan ouers oor lekker gesonde versnaperings in die kosblik sluit in:
• Tuisgemaakte springmielies;
• Vrugtestokkies;
• Droë vrugte;
• Vrugtestafies sonder ‘n suiker lagie;
• Rou neute en grondboontjies;
• Volgraan beskuitjies en volgraan koekies; en
• Muffins.
