BlogsOpinion

RUSPLEKKE EN RIGTINGWYSERS : Is die kerk dalk te besig vir God?

Daar is kerke en gemeentes waar daar byna elke aand die een of die ander "happening" is.

Daar is kerke en gemeentes waar daar byna elke aand die een of die ander “happening” is.

‘n Sakeman sê eendag vir sy kerkraad: “Julle het van my kerkplek ‘n werkplek gemaak. Ek het gedog my werkplek moet my kerkplek wees.”

Ons moet wegdoen met vol kerklike programme wat net oor vol kerklike programme gaan. Ons moet loskom van die idee dat vol programme binne die mure van die kerkgebou op sukses dui. Ons moet mekaar versorg en toerus om voluit kerk in die wêreld te wees. Ons moet menswees in die wêreld soos God dit in die eerste plek bedoel het.

Raak tuis in die roeping waarvoor God jou geroep het. Gaan lewe Jesus se gebed Laat U Koninkryk Kom elke dag in jou blyplek, werkplek en speelplek. Gaan wees jy die antwoord op hierdie gebed.

Mense van die wêreld is nie so begaan oor wat jy glo nie, maar oor hoe jy leef. Dit gaan nie oor hoe jy en ek ons geloof beleef nie, maar hoe ons dit uitleef! Hulle wil die vrug van die Gees in jou lewe sien. Daar is baie, baie mense wat nie meer Bybel lees nie, maar hulle lees ons as Christene. Ons is mos Christus se briewe (2 Kor. 3:3).

My lewe saam met God vat my nie na ‘n private plek toe nie. God roep my nie en sonder my af binne die mure van die kerkgebou nie. As God my roep dan stuur Hy my sy wêreld in. Ons is die draers van die goeie nuus, draers van hoop, hulp en herstel.

Elke oomblik van elke dag dra die moontlikheid van ‘n God-oomblik. Daar is nie ‘n deel, ‘n stukkie van die lewe wat nie met God te doen het nie. Die aarde en alles daarop behoort aan die Here (Psalm 24:1). Ons word as Christene die wêreld ingestuur om die lewe en al sy fasette te transformeer om al hoe meer soos God se wêreld te lyk. My huwelik, my werk, my gesinslewe, my ontspanning, of jy nou eet, of drink, wat jy ook al doen, doen alles tot eer van God (1 Kor. 10:31).

Broer Lawrence sou sê: “Tussen die gekletter van potte en panne in die kloosterkombuis is my hart vol diepe vrede, want ek bid oop-oë en my skottelgoedwas word sakrament!” Selfs die skottelgoedwas in die klooster is heilig!

Kan ek nie rugby, tennis en skaak speel tot eer van God nie?

Is die boer wat die land bewerk nie besig met godsdiens (diens aan God) nie? Is die gelowige dokter wat konsulteer en opereer, die onderwyser wat klasgee, die sekretaresse wat afsprake reël en die werktuigkundige wat herstel nie ook met Godsdiens besig nie?

Dit is nie net dominees, pastore en jeugwerkers wat voltyds in diens van God staan nie, jy is ook.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button