Opinion

Omgeklits: Verkiesingskoors

Die verkiesingsdag, kom al nader en, so wil dit vir my voorkom, neem wetteloosheid toe met rasse skrede.

Die verkiesingsdag, kom al nader en, so wil dit vir my voorkom, neem wetteloosheid toe met rasse skrede.

Politiek is ‘n vuil spel, dit weet ons al lankal.

Die publieke uitsaaier (SABC) se personeel word na bewering verbied om skares by ander partye se byeenkomste te wys. Die uitsaaier se mond word gesnoer. Sosiale netwerke is in rep en roer, en twiets en Facebook word fluks ingespan om politieke boodskappe en kennisgewings van vergaderings en byeenkomste en waarhede en onwaarhede asook halwe waarhede te versprei.

Ek word al vieser, want ek wil onbevooroordeelde nuus en kommentaar hoor. Ek wil sien wat aangaan op paaie en in gebiede waar ek moontlik in die nabye toekoms mag ry, of waar my familie en vriende dalk gaan ry.

Ek is propvol tot oor my ore van al die politieke beloftes wat gemaak word met groot vertoon en baie uitgedeelde T-hemde om guns te koop. Ek is nie eers meer lus om nuus te kyk nie.

Ek wens die verkiesing wil kom en klaarkry, want die blote gedagte aan die verkiesing spoor mense aan om skynbaar al meer opstandig te word en aandag op hulle probleme te vestig, al is dit op wettelose maniere. Onskuldige mense se huise, motors en vragmotors asook publieke infrastruktuur word verniel en vernietig.

Hoeveel dink jy kos ‘n groot vragmotor met ‘n sleepwa vol een of ander vrag wat gebrand word?

Opportunistiese partye maak van die geleentheid gebruik om oproer te saai en tekortkominge en gebreke in stelsels en dienslewering uit te buit. Klagtes oor tekorte en ontberings word buite verhouding opgeblaas en dan is dit gewoonlik ‘n ander politieke party se skuld.

Ongelooflike onrealistiese beloftes word gemaak van wat sal gebeur as mense vir ‘n sekere party sou stem en hulle kom aan bewind. Ongesofistikeerde en onkundige mense word deur emosies en begeertes aan die neus en ook om die bos gelei. Hoop en verwagtinge vier hoogty en maak realisme dood.

Ja, ek is meer bevoorreg as so baie ander mense.

Ek leef in beter omstandighede as baie ander, maar die wetteloosheid en ongebreidelde geweld wat so kop uitsteek raak my ook. Wat van die uitbuiting van mense wat swaar kry? Ook dit kom deels neer op beloftes van vroëer wat nie nagekom is nie.

Ek hoop 8 Mei kom gou. Mag elkeen van ons land se mense intussen geseën word met ‘n trokvrag vol gesonde verstand en insig en insae sodat hulle reg sal stem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button