Opinion

Niks klop die vreugde van ma-wees nie

Sondag is Moedersdag en Review het met 'n paar ma's van die stad gaan gesels oor die vreugdes van ma-wees.

POLOKWANE – Sondag is Moedersdag en Review het met ‘n paar ma’s van die stad gaan gesels oor die vreugdes van ma-wees.

Lucy Matsi het drie kinders tussen die ouderdomme van 11 en 18. Sy sê om ‘n ma te wees is lekker, maar soms ook moeilik. “Om saam met die kinders te wees is baie lekker. Die moeilikste is egter wanneer hulle geld wil hê vir iets en ek het nie geld nie. Hulle verstaan dit nie altyd nie,” sê sy.

Lenah Hlalele het ses kinders tussen die ouderdomme van 15 en 35. Vir haar is ma-wees nie altyd aangenaam nie. “Alles hang van die ma van die huis af; besluite wat geneem word en keuses wat gemaak word. Dis aaklig wanneer hulle nie vir jou luister nie.”

Jeanri Vermeulen is die ma van ‘n eenjarige. Sy sê hoewel dit baie lekker is om ma te wees, is dit ‘n baie moeilike taak. “Hy is nog te klein om my te bederf, maar ek is seker hy gaan my baie bederf wanneer hy ouer is,” sê sy oor Moedersdag.

Liz Southn vertel sy is nie net ‘n ma nie, maar ook ‘n ouma. “Ek geniet dit vreeslik om ma en ouma te wees.”

Sy vertel haar kinders bly ver van haar af, maar wanneer die familie bymekaar kom, word sy gewoonlik behoorlik bederf.

Deliwe Nyathikazi het drie kinders. Ook sy is reeds ‘n ouma en vertel sy geniet ouma-wees meer as wat sy ma-wees geniet. “Die dag wat ek my hare uit my kop wou trek was toe my seun my vertel het hy gaan nie deur gr. 12 kom nie. Nie omdat hy dom is nie, maar omdat hy te lui is.”

Laetitia de Haas het drie kinders wat al drie in hulle laat 30’s is.

Ook het sy drie kleinkinders. “Ma-wees is vir my baie lekker en die kinders bederf my dikwels. Dit was net moeilik wanneer al drie hulle maats gelyk by die huis gehad het. Seuns kan maar rof raak.”

Mercia Botha se seuntjie is vyf jaar oud en sy vertel dat hy haar dikwels bederf. “Om ma te wees is vir my baie lekker. Ek geniet dit vreelik.

My kind is vreeslik bedrywig, maar ek kla nie.”

Martine Steyn het ook drie kinders en sê dat sy nie sonder haar kinders sal kan lewe nie. “Ek is vreeslik lief vir my kinders. Die jongste een is baie eiewys en gee my soms grys hare, maar ek verruil hulle vir niks. ”

Helen Ferns het ‘n 11-jarige dogter wat haar soms die harnas injaag. “Sy het een keer modderkoekies op my spierwit beddegoed gebak. Ek was baie kwaad. Ek geniet moederskap baie. Dit bring geweldige veran-deringe in jou lewe.” Verder vertel sy dat sy dikwels ontbyt in die bed en byna daagliks ‘n blommetjie kry.

Denise Erasmus het ‘n dogtertjie van drie jaar oud, Danika. Ook vir haar is ma-wees wonderlik.

“‘n Kind sien alles en as ouer moet jy ‘n goeie voorbeeld stel. Ek sal ma-wees vir niks verruil nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button