Die Jesaja 62 verhaal speel af in Jerusalem, waar ‘n klein groepie Jode terug is na sowat 40 jaar van ballingskap in Babilon.
Aanmekaar bly hulle God herinner aan sy beloftes dat Hy Jerusalem weer sal herstel.
‘n Mens kan die volk se hoop verstaan. Daar waar God ingryp moet dinge mos verander. Hou aan bid en smeek tot God julle land herstel het, moedig Jesaja die volk aan.
Daar word egter meer van hulle gevra as om te bid, te smeek en God aan sy beloftes te herinner (Jesaja 62:10).
Klim af van die mure af. Gaan uit by die stad se poorte. Steek jou hande uit jou moue. Maak jou hande vuil. Vat die klippe weg en vul die grootpad op. Breek uit jou gemaksone uit. Bid én werk. Bid én doen.
Daar was by die volk ‘n ernstige gebrek aan toewyding en ywer in hulle aanbidding. Hulle het voorbidders op die mure gehad maar verder het daar niks van hulle kant af gekom nie.
Hulle was die verstopte pyp wat keer dat God se beloftes waar word, hulle wat die kanaal van God se seën en herstel moes wees, was nou die verstopping.
Julle leiers is sonder insig en ‘n broeisel leuenaars, kapittel die profeet hulle (Jesaja 56:11 en 57:4). Julle bid en smeek en wag en hoop op ‘n beter Jerusalem, maar self verroer julle nie ‘n vinger nie. Alles in julle land en in Jerusalem sal mooi en goed wees, maar dit vra toewyding, ywer en entoesiasme van julle kant af.
Die tyd het gekom dat Christene sal bid en meer sal bid.
Kom ons hou aan om God aan sy beloftes van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde te herinner, maar kom ons klim van ons “mure” af.
Staan van jou knieë af op. Gaan lewer diens in jou gemeenskap. Steek jou hande uit jou moue. Maak jou hande vuil.
Jesus het nie net gebid nie. Hy het anders geleef. Hy het mense se verhoudings met God herstel.
Hy het misbruik, uitbuiting en onreg uitgedaag en mense se lewens ten goede verander.
Na Sy hemelvaart het Hy die kerk bekragtig deur sy Gees oor hulle uit te stort om sy nuwe hemel en sy nuwe aarde nader te lewe.
Nou moes die kerk aangaan waarmee Jesus begin het. Die Kerk is nou Jesus se liggaam op aarde. Ons is nou Hy op aarde.
