Opinion

‘Dís my pa se nalatenskap vir mý lewe’

Met Vadersdag net om die draai het Review besluit om met tieners te praat oor wat hulle graag eendag net soos hulle pa's sal wil doen.

POLOKWANE – Met Vadersdag net om die draai het Review besluit om met tieners te praat oor wat hulle graag eendag net soos hulle pa’s sal wil doen.

Heinrich Viljoen sê dat sy pa baie streng is as dit by akademie kom en hy het self al die vrugte van harde werk gepluk. “Ek wil eendag net soos my pa aan my kinders kan verduidelik waarom dit nodig is om so hard te werk en saam met hulle die vreugde beleef van sukses; presies soos my pa my geleer het,” sê Heinrich.

Rethabola Ntsoane sê dat sy haar pa se manier van werk met sy kinders graag sal wil aanleer en oordra aan haar kinders. “Hy behandel geen mens beter as die ander nie en wanneer hy met jou praat, voel jy soos die mees spesiale kind in die hele wêreld.”

Dian Forrester vertel dat sy pa ‘n pastoor is en dat hy soveel lewenslesse by sy pa leer elke dag dat dit moeilik is om slegs een uit te sonder.

“Hy is vir my die ideale pa en ek kan nie dink dat enige ander kind so gelukkig kan wees soos ek nie. Ek dink die grootste les wat ek elke dag by hom leer, is dat jy die vrugte sal pluk van alles wat jy doen. Dis iets waarvoor ek ook eendag bekend wil wees; dat ek die gevolge van my dade kan dra omdat ek die basiese beginsel ken: wat jy saai sal jy maai.”

Moyahabo Leopeng glo daar is baie waarheid in die gesegde dat jy eendag met ‘n man soos jou pa trou.

“My pa het my nog nooit teleurgestel nie en ek wil eendag met ‘n man trou wat my net so sal ondersteun soos wat my pa my ondersteun. Hy dra my deur die lewe en waar ek foute maak is hy daar, maak nie saak wat gebeur nie,” vertel sy.

Louis Nel sê daar is één onwrikbare ding wat ‘n man maak of breek.

“‘n Volwaardige man staan by sy vrou en kinders deur alles. Sonder klagtes staan hy sy kinders by in alles wat hulle doen. My pa is my grootste steunpilaar en ek wil eendag dieselfde vir my kinders wees,” vertel hy.

Cleo Nkatingi glo dat die inspirasie wat haar pa vir haar gee iets is wat sy eendag aan iemand anders wil oordra.

Sy vertel dat haar pa ‘n man is met baie sterk beginsels en dat sy eendag, net soos hy, sterk wil staan in haar geloof en beginsels.

“Hy is my held. Maak nie saak wat die lewe in my rigting gooi nie, ek weet ek sal die beste daarvan kan maak want hy is daar om my die inspirasie te gee wat ek nodig het.”

Kailin Ferreira vertel dat sy pa oral om die stad se sportvelde bekend staan as die pa wat die hardste skree en die hoogste spring.

“Dis hoe ‘n pa moet wees. Daar is nie ‘n manier om te beskryf hoe dit voel om jou pa lewensgroot langs die veld te sien spring en skreeu om jou daardie ekstra bietjie aan te help nie. Ek hoop ek kan eendag soos hy staan en skree langs die veld en dat mense van my sal sê soos van hom: ‘só lyk ‘n pa wat vir sy kinders leef’,” sê hy.

Koketso Chali vertel dat haar vriende almal dink dat haar pa baie kwaai is, maar verduidelik gou dat hulle nie die rede daaragter verstaan nie.

“Hy is baie streng en daar is baie kere wat hy met my baklei, maar hy baklei omdat hy omgee en iets vir my wil leer. Met elke uittrapsessie leer ek om ‘n beter mens te wees en eendag wil ek dit ook vir my kinders doen. Ek wil genoeg omgee om te raas; dis wat ‘n pappa se liefde is.”

Christo Stears vertel dat, as eienaar van ‘n besigheid, sy pa hom baie leer van die grootmens- en besigheidslewe.

“Ek kan nie een ding opnoem wat my pa nie voluit doen nie. As ek eendag kan bereik wat hy al bereik het, sal ek aan hom kan bewys hy ook ‘n sukses van pawees gemaak het,” sê hy.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button