Kleuters gesels oor die winter
Die afgelope twee weke het inwoners behoorlik geklappertand in die koue wintertoestande wat in die stad geheers het.
POLOKWANE – Die afgelope twee weke het inwoners behoorlik geklappertand in die koue wintertoestande wat in die stad geheers het.
Review het met die klein Safaribere van Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum gaan gesels oor wat hulle dink van hierdie koue seisoen.
Denike van Onselen het vertel haar ma sê sy moet warm aantrek in die winter en groente eet.
“Ek trek ook boetse aan in die winter,” het sy bygevoeg.
Yoné Jonker het vertel dat daar baie donker blou wolke is in die winter. “Die wolke bring reën en ek moet ‘n baadjie aantrek anders kry ek verkoue en moet ek dokter toe gaan,” het sy verduidelik.
Klein JP Coetzee het gesê as dit winter is moet hy karretjies in sy kamer speel.
“Ek kry koud, en as ek winkel toe gaan kry ek koud en ek wil nie my baadjie uittrek nie,” het JP gesê.
Tiaan Erasmus het vertel dat hy nie mag buite speel in die winter nie.
“Ek moet binne speel anders gaan ek siek word. Dan gaan ek hoes en as ek siek is drink ek synes as ek hoes,” het hy haastig bygevoeg.
Mariëtte de Lange het goed geweet dit is koud in die winter. “Ons sit die masjien, die warmmasjien aan. Alles is in die winter koud,” het sy gesê.
“Maar ek swem in die winter én in die somer,” het sy bygevoeg.
Of jy nou hierdie winter moet boetse aantrek of warm masjiene aansit, en of jy hou van swem in die winter én in die somer, maak seker jy bly warm sodat jy nie te veel synes hoef te drink nie.
