Opinion

Honde is beskermend, katte geheimsinning

Mense het spesifieke voorkeure wanneer dit by hul troeteldiere kom en "katmense" en "hondemense" stry graag oor watter van hierdie diere die beste troeteldiere maak.

POLOKWANE – Mense het spesifieke voorkeure wanneer dit by hul troeteldiere kom en “katmense” en “hondemense” stry graag oor watter van hierdie diere die beste troeteldiere maak.

Review het met ‘n paar inwoners gesels om te hoor of hulle katte of honde verkies.

Stefanie Roets sê sy het ‘n Pekingese-hond en hulle hele gesin deel ‘n Great Dane. Sy is van mening dat jy nie vir ‘n kat ‘n stok of ‘n bal kan gooi om te haal nie, maar wel ‘n hond. Bowendien, sê sy, kan ‘n hond jou beskerm as jy in gevaar is en ‘n kat nie. Sy reken honde soek voortdurig liefde en aandag maar katte is meer onafhanklik.

Tuané Blaauw sê sy het ‘n grys en wit huiskat en dié is volgens haar baie meer liefdevol as ‘n hond. “Katte stink nooit nie, want hulle bad hulself. Ek hou verseker meer van katte as ‘n gunsteling troeteldier,” voeg sy by.

Steyn de Lange sê hulle bly op ‘n plaas waar hy ‘n hond en ‘n kat as troeteldiere het. Hy sê hy kan nie kies tussen ‘n kat of ‘n hond nie aangesien hy van beide hierdie troeteldiere hou.

“Vir my is dit glad nie werk om my worshond Wikkel te bad en kos te gee nie. My kat, Zjar, is egter op sy eie missie en loop graag rond. Ek is seker hy kuier rond by sy meisies, maar ek is goed genoeg om hom aandag te gee wanneer hy dit nodig het,” sê Steyn.

Hardus Saaiman sê omdat hy allergies vir kathare is verkies hy eerder honde.

“Ons het ‘n kat en ses honde op die plaas. Die honde het egter oorgeneem in die huis, dus hou ons kat hom maar op ‘n afstand. Ons het twee Warrior Terriers waarvan die oudste een my gunsteling is. Sy gaan graag saam as ons gaan jag. Sonder dat ons haar geleer het, spring sy self van die bakkie af as die skoot geklap het om die prooi te gaan soek. Soms help sy om prooi te op te spoor as ons die spoor verloor het. Ek dink honde is baie meer beskermend teenoor mense as katte,” vertel Saaiman.

Lana Steyn is ‘n absolute katliefhebber en sy vertel dat sy op ‘n tydstip sowat agt katte aangehou het, maar hulle is tragies deur ‘n kwaai hond doodgemaak.

“Nou het ek weer ‘n kat en ons is onafskeidbaar. Ek sal miskien weer ‘n paar bykry, maar die tyd sal leer. Katte is vir my besonderse geheimsinnige diere. ‘n Kat is jou baas, jy is nie sy eienaar nie. Uit ondervinding kan ek sê dat as ‘n kat gaan sterf het hy ‘n manier om van jou afskeid te neem. Hy kom groet jou vir oulaas. Katte het ‘n sesde sintuig en kan gevoelens soos wanneer jy kwaad of hartseer is aanvoel. Ek is juis besig om ‘n boek te skryf oor een van my geliefde katte wat so te sê oral saam my gereis het, selfs oorsee,” sê Lana.

Miemie Posthumus sê sy hou eintlik van honde én katte.

“Maar ‘n kat is die een wat besluit of hy jou wil aanvaar of nie. Mense sê jy kan net ‘n hond leer om iets te doen. Na my mening is katte makliker om te leer en hulle snap vinniger as ‘n hond. Tans het ons geen katte nie, net ‘n oulike Yorkshire Terrier en ‘n Lovebird. As ek weer ‘n kat moontlik sal kan aanhou, sal ek verseker een kry. Ek het nog altyd katte gehad en een van hierdie katte het ek my man vir 16 jaar gehad. Wat vir my besonders is van katte is die feit dat hulle besluit wanneer hulle aandag verg. Jy bly by jou kat in die huis. Jou kat woon nie by jou nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button