BlogsOpinion

Foonverslawing ‘n euwel van ons tyd

Charmaine Lourens - REDAKTEURS SE INK

‘N ONGEKENDE saligheid het my die afgelope twee weke getref.

‘n Stilte waaraan ek nie gewoond is nie het my oorrompel en saam met dit ‘n gevoel van bevryding.

My selfoon het gebreek en weg was die aanhoudende gelui van die reeds afgesaagde deuntjie wat my van vroegdag tot laatnag besig hou.

Vir bykans twee weke was ek selfoonloos en hoe langer dit gevat het om my nuwe foon van ‘n kettingwinkel wat onlangs hul deure landswyd gesluit het te kry, hoe meer het ek van die nuwe stilte in my lewe gehou.

Dit het my laat besef dat ons nie meer vandag hierdie stilte ken nie.

Ons het onself ontneem van ‘n salige lekkkerte met selfone en rekenaarapparate wat ons daagliks soos babas versigtig oral saam dra en heeldag mee besig hou.

Nie lank terug nie was selfone ‘n onbekende, toe maak die swart baksteen-gedoente sy verskyning en siedaar die nuutjie word ‘n gier wat nooit weer gaan verdwyn nie. Nou stoomroller jonk en oud voort om by te bly by die vooruitgang van selfoon- en rekenaartegnologie.

Waar is die dae wat fone ‘n groot luukse was? Ek onthou die rooi tiekieboks oorkant ons huis waar ma soms vir ouma gaan bel het. Toe ons die dag ‘n huisfoon kry was oproepe maak beperk en lang kletsies oor die foon ongehoord.

Die foon was eintlik net daar vir nood. Kinders het immers buite gespeel en sou ons met vakansie gaan was ‘n foon seker die laaste ding waaraan gedink is.

In my studentedae het ek met ‘n ander soort foon kennis gemaak. My kinders se pa het op ‘n plaas duskant Amersfoort grootgeword. Daar het ek geleer van ‘n sentrale en om my ore te spits vir ‘n lui van drie langes en twee kortes voordat jy optel.

Of ‘n mens nou inkopies doen, langs die sportveld sit of in die kleinste vertrekkie is, jou selfoon is altyd byderhand.

Wys my ‘n tiener sonder ‘n foon. Hulle lewens bestaan uit ‘n gekliek en getwiet met duime wat seker die mees ontwikkelende spiere in hulle lywe geword het.

Boodskappe word in ‘n japtrap sommer toe oë getik en gestuur en wanneer die foon as straf weggevat word, spring hulle vining uit om hul kant te bring in die huis, met skoolwerk en in hul buitemuurse aktwiteite. My foon word afgelewer en ek moet die nuwe stukkie tegnologie in my hande baasraak.

My tienerseun kwyl oor die Windows 8 sagteware en glimlag van oor tot oor omdat sy ma vir ‘n slag tegnologies op datum is, maar my emosies ry wipplank want ek gaan my nuutgevonde stilte mis. Dit laat my by die slotsom dat ‘n mens vir jouself duidelike lyne moet trek. Daar moet daagliks genoeg tyd wees vir stilte sonder ‘n foon in sig. Jy is dit aan jouself verskuldig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button