Opinion

Grotman grom vir ‘n pastorie-ouma

Bosveldpraatjies - Corinus du Toit

Ceciel is ‘n baie bekwame pastorie-ouma hier op die dorp, alhoewel sy die woord verpes. Sy en Bernard is reeds vir baie jare getroud, het ‘n mooi kroos grootgemaak en is geliefde en geëerde mense in hul gemeente waar Bernard reeds vir naby aan 30 jaar die Woord lewer.

‘n Paar jaar gelede het hulle ‘n vertoning van Groet die Grotman in die Staatsteater in Pretoria bygewoon. Soos dit ‘n goeie teaterganger betaam, skakel Ceciel haar selfoon af, sit dit in haar jas wat sy uitgetrek het se sak, en sit agteroor om die vertoning te geniet.

Nie baie lank na die aanvang van die vertoning nie, begin ‘n selfoonwekker lui, maar niemand reageer om dit af te skakel nie. Die gelui hou vir ‘n wyle aan, stop dan en begin ‘n paar minute later weer.

Die herhalende gelui raak later erg steurend, nie net vir die gehoor nie, maar ook vir die grotman op die verhoog. Aanvanklik vra hy mooi beleefd dat die persoon asseblief die selfoon moet afskakel, maar die afwisselende gelui duur voort. Mettertyd begin hy soos ‘n grotman praat, selfs effens lelik, maar die bron van irritasie wil maar nie sy bek hou nie en lui van tyd tot tyd lustig voort.

Ceciel sit haar en verwonder aan die ongeskikte mens wat horende doof en ‘n steen des aanstoots vir almal in die teater is en lewer ewe kommentaar teenoor Bernard oor die ongepoetsheid van sommige mense.

Later praat die grotman werklik lelik, maar die kommunikasiegaping tussen hom en die selfooneienaar duur voort.

Eindelik is die vertoning klaar. Toe Ceciel opstaan en haar jas neem, voel sy die vibrasie hier teen haar sy en sy weet sommer; dis háár selfoon wat die skuldige is. Maar sy het dit beslis afgeskakel, maak sy haarself wys.

Van skrik bondel sy sommer die jas en druk dit styf teen haar vas sodat die materiaal die selfoon se gelui snoer. Toe die gelui uiteindelik ophou, loer sy versigtig. Tog reg, haar selfoon is wel afgeskakel.

Op pad huistoe neem sy haar voor. In al hulle jare van getroude lewe het sy nog nooit iets vir haar man geheim gehou nie, maar nou gaan dit die eerste keer wees. Daar is nie ‘n manier wat hy ooit van hierdie een gaan uitvind nie. Oor die volgende paar dae vis sy so verlangs by die kinders uit en kom toe agter dat ‘n selfoon se wekker steeds afgaan, al is die verbrande foon afgeskakel.

Vir twee weke loop sy met ‘n wroeging rond en vertel toe maar vir Bernard daarvan.

‘n Skoon gewete is immers belangriker as stilbly oor ‘n verleentheid.

En nou weet u ook daarvan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button