Boeke en stories kleur die wêreld rooskleurig in
As daar nou een ding is waaroor ek vurig kan raak, is dit my oortuiging dat alle kinders moet lees. Daarom het boeke en stories van dag een af ‘n baie belangrike rol gespeel in my dogter se slaaproetine. Mens voel nogal simpel om vir ‘n pasgebore baba boek te lees voor slapenstyd, maar binne …
As daar nou een ding is waaroor ek vurig kan raak, is dit my oortuiging dat alle kinders moet lees.
Daarom het boeke en stories van dag een af ‘n baie belangrike rol gespeel in my dogter se slaaproetine.
Mens voel nogal simpel om vir ‘n pasgebore baba boek te lees voor slapenstyd, maar binne ‘n jaar of twee begin hierdie roe-tine vrugte afwerp en kan mens agterkom hoe ‘n wonderlike impak stories op ‘n kind se ontwikkeling het.
Nou is my ooilam op agt jaar oud genoeg om self te lees en saans lê sy eers ‘n rukkie en lees voor dit slaaptyd is.
Ek staan en kyk hoe sy lees en my gedagtes dwaal terug na al die boeke wat ek as kind gelees het en hoe ‘n enorme impak hierdie stories op my lewe gehad het.
Die heel eerste boek wat ek ooit besit het, het my ouers vir my gekoop toe ek in gr. 1 was.
Siems Kry ‘n Maat het die storie vertel van ‘n eensame seun, arme ou Siems, en hoe ‘n kat op die ou einde sy maat geword het.
Vandag nog wonder ek hoe iemand sy kind Siems kon noem, maar hierdie boek was my eerste leesliefde. My heel eerste “grootmensboek” was ‘n bundel met die Grimm-broers se oorspronklike feëverhale (sonder prentjies nogal).
My ma het dit vir my gekoop vir my negende verjaardag. Vandag nog kan ek ure lank verdwaal in hierdie fabels en verhale wat elkeen ‘n lewenslessie inhou.
Daarna het ek klassieke verhale soos Alice in Wonderland, Pippie Langkous, Tom Sawyer en Huckleberry Finn, en natuurlik Saartjie en Trompie ontdek. Ek kon ure lank op avonture gaan saam met Jasper en sy bende en Die Uile, en die Meisies van Maasdorp het naderhand soos familie gevoel.
Maar die een kinderboek wat my weer en weer diep raak, is The Little Prince van Antoine de Saint-Exupéry.
Een van die laaste sinne in die boek dwing my telkens om weer op ‘n nuwe, kinderlike, manier na die wêreld om my te kyk.
Die skrywer wonder of die klein prinsie se skaap op die ou einde well sy roos opgeëet het en sluit af met, “and no grown-up will ever understand that this is a matter of so much importance!”
Laat ons weer begin om saam met ons kinders te lees en die lewe deur hulle oë te sien. Dit is ‘n rooskleurige bril.
