
MOKPANE – IEWERS in my prille jeug was ek ‘n kandidaatoffisier by die Militêre Akademie in Saldanha.
Daar het ek wonderlike ervarings gehad soos om onder andere die Namibwoestyn in drie dae van Sossusvlei tot Sylvia’s Hugel te voet te deurkruis en 21 liter water in die proses te gebruik.
Ek het ook my toekomstige Beter Helfte daar ontmoet en die grondslag gekry vir 27 jaar uiteindelike diens in die ou SANW. Ek lê klem op “ou”, want die nuwe SANW is iets om van te ween. Dit egter daar gelaat, want van my maats van destyds byt steeds daarbinne vas. Daar was ook die hartseer en woede toe een van ons maats, Wessie, wat moes kies tussen predikant of soldaat word, op die grens deur ‘n landmyn aan flarde geblaas is.
Soldate is mos bekend vir hulle uithouvermoë. Daarom het die groot geeste dit goedgedink om die driejaar B Mil-graad in twee jaar in te druk – en ons het dit reggekry. Na jaar een, wat ‘n volle ses maande geduur het, het ons darem ‘n week verlof gekry. Jaar twee en drie het elk nege maande geduur met die luukse van twee weke vakansie tussen die twee. Dan het ons nog kursusse ook tussendeur gedoen.
As ek na vandag se studente kyk wat eers diep in Februarie met hulle klasse begin en aan die einde van Oktober reeds weer by die huis sit, met nog ‘n paar vakansies tussenin, dan verstaan ek goed hoekom daar meer tyd vir brassery en sulke dinge is as vir studeer.
Een van die kursusse wat ons teen wil en dank moes doen, was drie weke van perdry, en dis net daar waar my probleme begin het. My laaste ervaring met ‘n perd was op drie en het my ‘n milt en ‘n maand in die Rooikruishospitaal gekos, komplimente van ‘n goedgemikte skop. Daarna het ek seker gemaak dat ek wyd staan as ‘n perd naby is.
Eerste dag by die stalle vra ek die staljongens na ‘n mak perd. Hulle gaan so op die stalle af. Daar is Kim, so ‘n rankerige perd, maar hy kan hol, jong. Dan is daar Silwer, maar hy is eintlik ‘n basterponie en net vir die kortgatte bedoel – en ons het juis so een in ons groep. As hy van ‘n randsteen afstap, dan stamp sy boude daarteen, so kort is hy. Duiwel is vanselfsprekend en Jors wil net teen al wat ‘n merrie is, skuur. Onder maak ons die draai en kom met die volgende ry oop staldeure, waaroor perdekoppe belangstellend loer, terug. So half met die ry op, stop hulle. “Griet! Dis die perd vir jou. Goed dood en dood goed. Niks sal haar geroer kry nie.”
Ek bekyk die perd en sy kyk vir my en sy lyk vir my ietwat van ‘n donkierige ding. Jy kan mos aan die kopvorm van ‘n perd of hond sien of daar verstand tussen daardie ore sit, en Griet s’n lyk na ‘n totale lugleegte. Totaal te dom om van nukke en giere te weet.
So gebeur dit toe dat ek baie wantrouerig uiteindelik op Griet se rug beland, maar wat, sy het nie ‘n saak met my nie. In liggaam is sy wel in die ryskool, maar waar die res is weet nugter.
Na ‘n week besluit die stalmeester en ook ry-instrukteur dat ons klomp kandidaatoffisiere vertrou kan word om met “sy” perde dit buite die ryskool te kan waag. Saldanha se vlaktes is wyd en uitgestrek met baie plek vir ‘n halsstarrige perd om te hardloop.
Ons vat die grondpad SAWI toe – 20 perde in ‘n ry. Kim trippel so skuins-skuins, duidelik baie lus om te hardloop, maar Hoppie hou hom mooi in. Soontoe gaan alles goed. Teen hierdie tyd het ek al geleer dat ‘n perd se ore ‘n aanduiding is van wat jy van hom kan verwag, en Griet se ore hang soos ‘n spreekwoordelike moeë haas s’n. By SAWI draai ons om hopeloos te naby aan die stalle vir perde wat nog nie eers ‘n klein bietjie van hulle energie uitgewerk het nie. Kim breek eerste weg en daar gaan so ‘n trippeling deur die res van die perde. Griet lig een oor en draai dit so effens na vore.
Volgende is Silwer, en Griet lig die ander oor, maar stap ewe gedienstig voort. Op so ‘n 30 tree weg moes Silwer iets vir haar geskreeu het -miskien iets soos: “Ek gaan al die hooi in jou stal opvreet,”, want Griet lig altwee ore penorent, trek hulle plat en vertrek teen ‘n vol galop. Van die “goed dood” perd is daar skielik niks oor nie en sy hol soos ‘n vlakhaas. Maar wat, toe haar een oor so lig, sit ek reg en en toe sy nog dink sy hardloop, krink ek haar linksom sodat sy in ‘n sirkel hardloop. Met Silwer buite sig bedaar sy en begin weer stap. Nie twee tree nie toe gil Silwer weer iets van daar doer vêr af en Griet trek weer weg, hierdie keer regsom, want ek krink vir haar. Kom weer tot bedaring, maar toe het haar enkele breinsel lankal die ding uitgewerk. Daar moet iets baie lekker by die stalle wag anders waarom sal die perde dan so hol?
Toe sy die derde keer wegbreek, probeer ek weer vir linksom en lê met al my mag op die linkerteuel, maar puur verniet. Ek trek haar dat haar nek later kinkel en sy van onderaf uit een oog na my loer, maar sy hardloop op gevoel, reguit stalle toe. Voor maak ons roete ‘n T-aansluiting met die teerpad, met aan die oorkant van die T ‘n reuse veiligheidsheining van doringdraad en ek weet sommer as sy daar wil draai, gaan sy op die teer gly. Dit gaan net so erg wees as wat sy volspoed in die heining vashardloop.
Ek laat skiet dus maar die teuel en begin solank soek vir ‘n sagte plekkie om af te klim. Dis Saldanha bosse met hier en daar ‘n sanderige kol en ‘n rots of twee net om dinge interessant te maak. Toe daar weer ‘n kol verbykom skop ek uit die stiebeuels en wip uit die saal, maar nie hoog genoeg nie. Ek hang nog so ‘n haal of twee aan die perd se boud, en toe ek afkom, is die sandkolletjie al vergete iewers daar agter en is dit ek en ‘n moerse boulder wat sedert Vasco da Gama se tyd al die ambisie het om iemand te kelder en hier kom offer ek myself as’t ware daarvoor.
Maar wat, soldate is veronderstel om taai te wees en toe ek heelwat later hinke-pinke by die stalle opdaag, lyk Griet nogal verbaas bly om my te sien. So asof sy wil sê: “Ons het darem lekker gehol, jong, maar waar het jy agtergebly?”
Die volgende week is dit weer sulke tyd, maar hierdie keer is die roete anderkant toe in die rigting van die Akademie self. Die perde is sommer lus vir sports en nie lank nie of Silwer breek weg en jaag met ‘n klouende ruiter reg voor die hoofgebou verby met al die tiksters wat by die vensters uitleun. Die sirkelroete bring hulle twee terug by die stalle. Volgende is dit weer Kim wat laat lees. Hy en Hoppie bly bymekaar tot tussen die bloekombome, toe kom daar so ‘n lui stofwolkie bo die bome uit en Kim kom hoogs tevrede ruiterloos aan die ander kant uit.
Tussen al hierdie gewoel is Griet die rustigheid vanself, maar ek weet, iewers vorentoe moet ons draai, en dan is dit weer ek en Griet. Teen hierdie tyd het ek al agtergekom wat die staljongens nagelaat het om my te sê. Op pad weg van die stalle is Griet morsdood, maar Boeta, draai net om dan het sy net een begeerte, en dis om so vinnig moontlik by haar krip te kom. Toe ons draai trek ek die teuels dus byvoorbaat lekker styf.
Ek hou vas aan Griet en sy gedra haar heel skaflik, sodat ek effens ontspan en nog net my arms styfhou, maar dis net daar waar ek die fout maak. Toe die klomp so ‘n vyftig tree weg is, pluk Griet skielik haar kop vorentoe en ek gaan saam. Al genade is om haar om die nek te gryp, maar toe is sy alreeds op vol spoed. Daar gaan ons, hol skoon by die ander perde verby met my al klouende om haar nek met my agterstewe wat net so hier en daar aan die saal raak. Daar is nie eers ‘n kans dat ek kan probeer regop kom nie. So kom ons by die stalle aan en toe Griet die draai vat is middelpuntvlietende krag te groot en hou ek reguit aan om doer anderkant ‘n pad deur die vygies te ploeg.
Einde van die kursus word daar toe ‘n spesiale toekenning gemaak en vir die mees aanskoulike val verdien ek my pêrebat vlerkies. Dit is ‘n affêre in die vorm van ‘n kruis uit ‘n leë bierblikkie saamgeflans. Jare daarna kom ek toevallig op my kursusrapport af, en daar staan dit lewensgroot: ” Hierdie kandidaatoffisier ervaar ‘n ernstige balansprobleem.” Nou wonder ek net, sê nou maar net ‘n verkeersman wil dat ek een aand op ‘n wit streep moet loop en ek val af, sal ek die kursusrapport as bewys in die hof kan gebruik dat ek van jongsaf met balans sukkel?
