MOKPANE – “‘N IETSIE wat lekker ruik, ‘n pers handoek, sjokolade en gekerfde biltong” is van die wense wat die inwoners van die Piet Potgieter Ouetehuis op hul wenslysies vir Kersfees ingevul het.
Daar word tans hard gewerk om die Kers-liggiefees by die Piet Potgieter Ouetehuis vanjaar besonders te maak vir die inwoners en die gemeenskap.
Op 1 Desember gaan die inwoners aan ‘n heerlike Kersete smul wanneer die liggies aangeskakel word.
Op 5 Desember kom Danie Botha hier optree en op 10 Desember word ‘n Kersboom vir al die inwoners gehou waar daar geskenke uitgedeel word.
Die kitaarspeler, Trevor Nasser gaan die inwoners en gemeenskap op 12 Desember met sy musiek kom vermaak.
Die ouetehuis vra dat die gemeenskap hul Kersliggiefees kom ondersteun en hulle is ook welkom om die bejaardes se wense te help vervul. Geskenke kan by die ouetehuis afgelaai word.
Hier is van die geskenke wat die oues van dae graag sal wil hê:
‘n Boksie sjokolade, neute, ‘n mooi hemp, parfuum, gekerfde biltong, droë vrugte, ‘n beursie, Old Spice-naskeermiddel, of ‘n skeermes met twee lemmetjies.
