BlogsOpinion

Ou gesegdes wat steeds gewig dra

Bosveldpraatjies: Corinus du Toit

PRAAT mens deesdae van die “volk”, verdink mense jou dadelik van rassisme, of dat jy so ver regs is, dat jy Orania as ‘n kommunistiese vakansieoord beskou.

Hierdie keer handel die woord “volk” egter oor daardie kultuurskatkis wat vinnig besig is om uitgedien te raak en gevaar staan om dood te loop, idiome en segswyses.

So onlangs as 60 jaar gelede was al die gesegdes hieronder deel van die Afrikaanse omgangstaal. Soms was dit as streekstaal in minstens twee van die ou provinsies gereken, maar elke matrikulant sou meeste daarvan geken het.

Op skool, nou seker al 50 jaar gelede, is die goed in my ingevoeter. Deesdae mag onderwysers nie meer die lat inlê nie, alhoewel ek opmerk dat veral die onderwysers in die Wes-Kaap maar goed besig bly om maer bokke te dip; blykbaar die meeste van al die provinsies.

Ek kan my indink dat kinders na so ‘n pakslae al vrywend oor hul boude vir mekaar sal vra: “Het die by kwaai gesteek?” of “Vandag het die onnie ons dadels gegee” of selfs, afhangende hoe hard daar geslaan is, “Ons het vandag op ons Diederiks gekry” of “Meneer het frikkadel van ons gemaak.”

Van ons politici, van wie meeste skynbaar dink hulle leef in die land van Kokanje, en staatsamptenare wat dit my mos lyk meeste van Koerland se vleis geëet het, se bankrekenings groei sterk van al die duimkruid en handesmeer wat hulle kry, aangehelp deur geleentheid wat geneentheid gee.

Word iemand wel uitgevang, is dit gesang velskoen, versvadoek, sing. So nou en dan word iemand darem wel skuldig bevind en moet hy hoenderspoor dra. Net jammer ons grondwet verbied deesdae die straf waar ‘n regter ‘n moordenaar of verkragter se keel kan laat weet hoe swaar sy agterent weeg.Lyk my hulle hou deesdae heeltyd konsistorie in die parlement, want dis mos lekker om van ander man se leer breë rieme te sny.

Het jy nodig om by ‘n staatsdepartement iets te moet gaan doen, lyk dit of meeste daar Maandag hou. Luister ek so na ons ministers, klink dit my mos alteveel of van hulle met die nagskuit gekom het.

In die dae van olim was daar ook maar oliekoeke in die parlement, maar deesdae lyk die kafbale in die meerderheid, veral as ek luister hoe hulle ‘n staatspresident probeer beskerm wat nie die ABC ken rondom Nkandla nie.

Lyk my hoeka die speaker het oë soos ‘n tjokkerbekaasvoël nodig om ‘n oog in die seil te hou wanneer veral die EFF padlangs praat en die praathuis op stelte sit.

Kyk mens deesdae na ons einste genoemde agbare president, lyk dit publiek of hy die vyselstampers en die kriewelkrappers het sodra iemand “Nkandla” sê.

As Prins Charles nie met die linkerhand getrou het nie, was hy heel moontlik nou nog met sy eerste vrou getroud en was haar naam beslis nie Diana nie.

Na die matriekeksamen is ouers bang dat hul kinders op Margate se strand te veel vir Saartjie gaan soen sodat hul tee te sterk gaan wees of hulle hoog 14 op die strand rondlê en heeltyd net Engels praat. Dit, terwyl almal ook gaan ystervark slaan, en ons weet van drukkies en soentjies kom kousies en skoentjies.

En les bes, vra maar vir enige getroude man, al is skoonmoeder hoe gesuiker, sy bly maar suur. Almal wat Lotto speel, gooi ‘n spiering uit om ‘n kabeljou te vang.

Ek is seker dat Bosveld vir enigeen wat die 35 spreekwoorde en gesegdes wat in dié skets voorkom, korrek kan uitlê, iets in petto gaan hê.

Verwysing: Afrikaanse Spreekwoorde Gesegdes en ander Uitdrukkings, Derde druk, 1954 (net ingeval ‘n politikus sou dink ek skel hom).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button